Die Weg

 

Om werklik vry te wees

Julle, broers, julle is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik sodat dit aanleiding gee vir ons sondige aard nie, maar dien mekaar in liefde.” - Galasiërs 5:14; direkte vertaling.

“Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.” - 1 Korintiërs 5:12; 53-vertaling.

Ons hoor deesdae baie oor vryheid. Die mens smag na vryheid. Maar wat is vryheid?

Vryheid het verskillende betekenisse vir verskillende mense. Basies handel dit oor die wyse waarop jy jouself kan ontwikkel en 'n nuttige lewe kan lei. Iemand wat byvoorbeeld siek is, word in sy vryheid gestrem omdat hy nie in staat is om sy potensiaal uit te leef nie. Hy kan nie doen of gaan waar hy wil nie. 'n Arm mens word deur sy finansiële posisie gestrem om hom ten volle te kan ontwikkel. So gaan dit ook met die beperkings wat die ouderdom, gevangenisskap of selfs angstigheid op 'n mens kan stel. En so ook om slaafs te buig voor die oordeel en siening van mense, wanneer jy sosiaal aanvaarbaar vir ander mense wil wees. Dit alles skep beperkings op jou vryheid.

Wanneer 'n mens egter regtig vry is, is wanneer jy geestelik vry is, selfs ten spyte van alle uitwendige, liggaamlike of sosiale beperkinge. Paulus is 'n goeie voorbeeld van iemand wat innerlik en geestelik vry was. Daarom kon hy en Silas lofliedere sing terwyl hulle met hul voete in houtblokke vasgeketting in die gevangenis gesit het (Hand 16:25).

Maar waar kom hierdie geestelike vryheid vandaan? Hierdie vryheid is 'n gawe van die Heilige Gees. Dit is wanneer jy besef dat hierdie wêreld nie jou eintlike tuiste is nie omdat jy 'n Koningskind is. Jy is vry van hierdie wêreld omdat jy in die vergewende genade van God leef. En dan leef jy hierdie vryheid uit in diens aan God en in diens aan jou medemens. Dit is tot hierdie vryheid wat ons geroep word deur Jesus Christus.

Paulus was so vry dat hy nie 'n slaaf van sy vryheid geword het nie. Geestelik was hy só vry dat hy vrywillig afstand kon doen van sy bewegingsvryheid wanneer die belang van God se koninkryk en die liefde vir sy naaste dit gevra het. Hy was geen slaaf van “wat sal die mense sê” nie, en nog minder het hy hooghartig gesê: “dit skeel my min wat die mense sê, want ek is tog vry om te doen wat ek wil”. Die eerste is wêreldgelykvormigheid en die tweede losbandigheid. Nee, sy vryheid het gelê in sy kindskap van God:

Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.” (Rom 8:14-17).

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css