Die Weg

 

Van slaaf tot tweede in bevel (1)

Lees Genesis 40 en 41.

“Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog ‘n guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit; Maar wanneer dit goed gaan met jou, moet jy aan my dink en moet jy my 'n guns bewys. Jy moet my saak vir hom stel en sorg dat ek uit hierdie plek uitkom.” - Genesis 40:14.

Die lewe van Josef was een van laagte- en hoogtepunte. In Genesis 41 sien ons hoe Josef se lewe, binne 'n enkele dag, radikaal verander. Vroeg oggend het hy nog in die kerker gesit, en dieselfde aand was hy die tweede magtigste man in Egipte. En agter alles kan ons ook duidelik die hand van God sien, soos wat in die volgende 2 boodskappe uitgewys sal word.

Maar wat kan ons uit die lewe van Josef leer soos dit in hoofstuk 41 van Genesis vir ons beskryf word?

In vers 1 lees ons: “Twee jaar later het die farao 'n droom gehad.” Dit is, twee jaar na die gebeure in Genesis 40:14. Twee volle jare het verbygegaan nadat die skinker uit die gevangenis vrygelaat is. Maar hoewel Josef die skinker gevra het om vir hom 'n goeie woord by die Farao te doen, lees ons in Genesis 40:23:  “Maar die hoof van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, hy het van Josef vergeet.

Twee lange jare het niks gebeur nie. Die hoop wat Josef in die skinker geplaas het, het teleurgestel. Josef het onskuldig in die gevangenis gesit en was nie ongehoorsaam aan sy Here nie. Hy was die slagoffer van menslike intrige en laster. Hy sit in die tronk en ervaar die eentonigheid van die daaglikse roetine van 'n gevangene. En terwyl hy sit, tel hy die ure, dae, weke, maande en jare. Hy het genoeg tyd gehad om oor die lewe te tob! “As ek nie al die drome gehad het nie, as ek nie die mooi kleed gehad het nie! (vgl Genesis 37).  Nou is ek ver daarvan! Hoe verskriklik was dit om op die rug van 'n kameel vasgebind en as slaaf verkoop te word! Dan is ek ook nog belaster, vals beskuldig en in 'n kerker gegooi!” Toe kon hy ook tereg vra: “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?” (Ps 13:2-3).

Ook al is ons dieptes nie so diep en ons hoogtes nie so hoog soos Josef s'n nie, ondervind ons dit ook in ons lewens!

Ken jy die gevoel? Jy voel soms dat jou lewe niks meer as die opstapeling van een uur op die volgende is nie. Jou buurman oorkant die straat het 'n fantastiese lewe! Jou kollega by die ander lessenaar, sjoe, sy het vir jou 'n lewe! Maar ek? Alles net 'n eentonige roetine. Altyd maar weer dieselfde, vier en twintig uur van die dag. Daar is geen hoop op verandering nie. En jy sê: “Here, wat is my doel in die lewe? Waarheen is U met my op pad?”  

Dan moet ons leer om geduldig te wees, soos Josef. En ons moet onthou wat Paulus in Romeine 8:28 sê: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”  Dit beteken ook om twee jaar met geduld en vertroue op God te wag vir wat Hy in gedagte het om te doen. En hoewel die dae donker mag wees, doen God tog alles na Sy wil, en Hy doen alles goed en reg, op Sy tyd.

Ons leef te dikwels in die gees van die 21ste eeu, waarin alles onmiddelik en in nanosekondes moet plaasvind. Ek moet beslis iets van Josef leer! In die twee jaar wat verbygegaan het, en die 13 jaar sedert hy van sy vaderhuis geskei is, het Josef geduldig gewag. Ook ek moet daaraan herinner word dat God weet wat die beste vir sy kinders is. Hy is nooit te vroeg of te laat nie. En ons sal goed doen om op Hom te wag. Mag God vir ons geduld gee te midde van die gesloer van die alledaagse lewe!

(word vervolg)

- P Christian Wegert: Vom Sklaven zum Kanzler – Teil 1 (effens verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css