Die Weg

 

Die mens se sondemeter hou nooit op met tel nie!

“So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte.” - Romeine 7:21.

Die Switserse teoloog, Emil Brunner, het 'n mens se lewe vergelyk met 'n motorreis. 'n Motor het 'n ingeboude afstandmeter wat vir jou aandui hoe ver jy al gery het. En terwyl jy ry, kan jy sien hoe die kilometers bygetel word. Net so het ons lewens ook ingeboude  minute-, ure-, dae-, maande- en jare-tellers, en ook nog 'n sondemeter. Die dae en jare vlieg onherroeplik verby. Ons sien dit nie net aan die kortstondigheid en verganklikheid van die lewe nie, maar ook na die manier waarop ons sondeskuld opgestapel word. Wie kan na net 'n enkele dag sê: vandag het ek alles gedoen in liefde tot God en my naaste; het ek totaal sondeloos gelewe en geen enkele sonde gedoen, 'n sondige gedagte gedink of 'n sondige woord uitgespreek nie? 

Hoe spreek ons lewens nie van hoogmoedigheid en egoïsme nie? Die ergste daarvan, is dat ons dit dalk self nie eers agterkom nie. Dié mens wat nie oppervlakkig leef nie, maar telkens na homself in die spieël van God se wet kyk, sal beslis nie ingenome met homself kan wees nie.

En die sondeskuld word elke dag maar net meer en meer soos die afstandmeter van jou motor. Jy kan op geen manier daarvan wegkom nie. Selfs Paulus moes erken dat, nieteenstaande al sy goeie voornemens, hy tog telkens maar weer gestruikel het. Ek kan een oggend opstaan en sê: “vandag gaan ek volkome reg lewe”, maar geen uur later nie loop alles alweer skeef as gevolg van my persoonlikheid. En so klim my sondemeter al hoër en hoër. Nie één sonde word oorgeslaan nie. En dit is 'n beklemmende gedagte: dat ons in onmag staan teenoor die sonde van buite en van binne onsself.

Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig.” (Rom 7:21; 53-vertaling). Geen wonder dat Paulus 'n hekel aan homself gehad het nie: “Ek, ellendige mens! Wie sal my tog red uit hierdie doodsbestaan?” (Rom 7:24). En as ons werklike selfkennis het, behoort ons self ook soos Paulus te voel!

En tog moet dit ons nie moedeloos maak nie, maar kan ons ootmoedig en in dankbaarheid na Jesus Christus gaan. Dan kan ons ook verder sê: Dank die Vader, deur Jesus Christus, ons Here, wat ons uit ons skuldige bestaan bevry. In Hom word ons geregverdig en geheilig, maar nooit buite Hom nie!

Ds J Overduin in Bevrijding:Bijbels dagboek
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css