Die Weg

 

Want U het dit gedoen

“Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want U het dit gedoen.” - Psalm 39:10 (53-vertaling).

Daar is meer as een manier om te berus in God se beskikking. Dit sien ons ook hier in Psalm 39.

Dawid het baie sieleleed verduur toe hy hierdie Psalm gedig het. Dit het op hom afgestorm, hom getref en gewond. Dit was 'n baie moeilike tyd vir hom. Dit was asof die smart uit sy hart ontsnap en hy dit kon uitgil: “Waarom, o God, waarom tog? Kan dit dan nie anders nie? Waarom tog, soveel pyn?” Maar hy doen dit nie. Hoe kon hy dit doen, terwyl die goddelose, wat met sy God spot, naby hom was? Hy het sy leed in stilte verdra terwyl sy smart al hoe groter geword het (v.3) En dít omdat daar goddelose mense by hom was en enige uiting van sy ellende 'n aanleiding vir hulle kon wees om hom te spot en God te belaster. Maar die opgekropte leed maak hom diep ongelukkig. Hy is “ver van die goeie af” (53-vertaling). Bespeur ons 'n onderdrukte opstand teenoor God? Omdat hy alles binne-in homself opgekrop het, het dit hom op 'n onmenslike wyse van binne verteer. En daardeur het sy smart al hoe groter geword. “Daar was 'n brandpyn in my, my smart het 'n vuur in my geword” (v. 4). Hy kon later nie meer stilbly nie en die opgekropte leed het uitgebars. Die woorde het oor sy lippe gestroom, woorde vol bitterheid en ontevredenheid.

Dit laat 'n mens dink aan Job in sy lyding: “By dit alles het Job nie gesondig nie” (Job 1:22). Maar ook Job kon dit nie volhou nie. Ook hy het later sy mond oopgemaak, sy geboortedag vervloek en God tot verantwoording geroep.

En so het dit nie alleen met die psalmdigter (Dawid) en met Job gegaan nie, maar só gaan dit met elke lyer wat in eie krag sy lippe wil bedwing, wat swyg midde in sy leed. So 'n stilswye kan egter nie lank volgehou word nie. Want al hou jy jou woorde in, kom die hart in opstand teenoor die beskikking van God. En dit word al hoe heftiger totdat dit gloei soos 'n brandende vuur en die vlamme van verset hoog op teen die hemel slaan.

Dit bly gelukkig nie daarby nie. In die besef van sy eie nietigheid wend die psalmdigter hom tot God. Hy vestig sy hoop op God, en bid om uitredding. En nou word alles vir hom ook anders. “Ek is stom, ek sal my mond nie oopmaak nie; want U het dit gedoen.” Hy swyg nou weer, maar nie soos tevore nie. Hy swyg nou uit liefde vir God. Hy swyg nou nie met opgekropte gevoelens nie, maar hy swyg omdat hy sy leed aan God toevertrou het. Al is daar nog trane in sy oë en al bewe sy lippe ook nog, tog het hy geen lus meer om te praat of te skreeu nie, want “HERE, U, die liefdevolle God en Vader, U het dit gedoen”. En daarom vra hy nie meer of dit anders beter sou gewees het nie. Hy oordeel ook nie of dit reg of verkeerd is nie. Dit alleen weet hy: “U het dit gedoen.” En dit is vir hom genoeg. In daardie sekerheid is daar volkome berusting: wat God doen, is altyd goed. In Sy hand is jy veilig, ook midde in lyding en pyn en smart.

Dawid se siel is nou stil tot God. Die lyding is daar nog. Die pyn het hom nog nie verlaat nie, maar al die verwyte, die bitterheid het verdwyn. Daar is nog soveel wat onverklaarbaar is, maar die onverstaanbare vul die hart nie meer nie. Dit het gewyk om plek te maak vir die ervaring van God se troosvolle nabyheid. Die jubel van sy geloof klink deur sy pyn en smart heen. Dan kan ons ook onthou wat Paulus hiervan gesê het: God laat alles - ook leed en lyding - meewerk ten goede vir hulle wat Hom liefhet. (Rom 8:28).

Daarom sal ek my mond nie oopmaak nie, want U het dit gedoen.” Hoog bo my leed staan daar dié van Jesus Christus: die kruis waaraan Hy smarte gedra het, die kruis wat ons die sekerheid gee: God is liefde.

Ek sal my mond nie oopmaak nie. Here,
U het dit gedoen.
En U is liefde.

Ds Joh. Dreyer in: Troos in Droefheid (effens verwerk in moderne Afrikaans)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css