Die Weg

 

Om met vertroue te beplan

“Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” - Psalm 37:5.

Moet nooit jou toekoms sonder God beplan nie! Jy mag dalk net vind dat al die planne wat jy sonder Hom gemaak het, omver gewerp kan word. Ons kyk na die wêreld om ons, ons luister na wat ander mense sê, ons skep scenario's van alles wat moontlik kan gebeur en neem dan 'n besluit sonder om die voorsienigheid van God in ag te neem. Dan skielik loop al ons mooi plannetjies skeef en raak ons bekommerd oor die toekoms. Ons kan egter van die begin af alle bekommernisse uitskakel as ons God beskou as die belangrikste faktor in ons beplanning.

Ja, ons sit baie keer 'n aanstellerige “geestelike gesig” op as ons oor geestelike sake praat, maar wanneer dit by die praktiese beplanning van ons sake kom is dit alreeds weer vergete. Dan baklei en byt ons mekaar maar weer volgens wêreldse beginsels.

Pasop dat jy nie iets in jou beplanning opneem wat teenstrydig is met God se Woord nie, en moenie iets wat verkeerd is met 'n mooi baadjie beklee sodat jy dit in jou beplanning kan inbring nie. Dit is tog so maklik om te sê: “Ja, maar dit is die bestaande orde. Dit is wat die wêreld (of die besigheid) van ons verwag. As ek die suksesleer wil klim moet ek dit doen. Ek doen dit terwille van my kinders”. Regtig? Sonder om God in gedagte te hou? Luister dan na hierdie woorde: “Niemand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld 'n wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werklik 'n wyse mens kan word, want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.” (1 Kor 3:18-19).

Hoeveel keer het ons nie al beplan net om later te vind dat dinge nie uitgewerk het soos ons gehoop het dit sou nie! Onthou: as jy 'n kind van God is, sal Hy jou nie in die steek laat nie. Hy sal ingryp as jy die verkeerde rigting probeer inslaan. Dit mag vir jou lyk of die lewe vir jou 'n streep getrek het. Jy kan dan terneergedruk en depressief voel oor alles wat nou al weer skeefgeloop het. Maar weet dat wat ook al gebeur uit die hand van God kom. Hy het jou beplanning by jou oorgeneem. Omdat Hy beter as jyself weet wat in die toekoms op jou wag, sal Hy jou lei op die weg wat Hy vir jou berei het, en uiteindelik sy vrede in jou hart gee.

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” (Spreuke 3:5-6).

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css