Die Weg

 

Selfgesprek: om nie ontsteld te raak nie

“Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie. Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.” - Psalm 37:7-8.

Soms is dit nodig om die Bybel op te neem en dan met jouself te praat, eintlik vir jouself te preek. Wat hier volg is dus in die eerste plek vir myself, maar ek deel dit ook graag met almal.

Ek leef in 'n tyd waarin allerhande nuusgebeure my ontstel en selfs emosies van woede binne-in my wakker maak. Dit is egter nie net die nuusgebeure van die dag nie, maar dit kan ook my moeilike buurman wees wat my ontstel. Wanneer 'n mens ontsteld raak, loop jy egter die gevaar om perspektief te verloor met wat om jou gebeur. Miskien skep ek dan vir my drogbeelde van dinge wat glad nie eers bestaan nie. Dit is waarom God se Woord vir my sê dat ek my nie moet ontstel nie!

Dit is egter een ding op te sê:  “moet jou nie ontstel nie”,  maar iets heeltemal anders om my emosies só te beheer dat ek nie ontsteld raak nie. Dit is maklik om te sê: " ... jy (moet) in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel nie ... "(Psalm 37:7) totdat my eie klein wêreldjie onderstebo gekeer word en ek gedwing word om in angs en verwarring te leef soos so vele ander mense rondom my.

Daar is maar 'n baie kort afstand tussen kwaad word en wraak neem. Wat aanvanklik begin as 'n klein irritasie kan so maklik uit die hand loop en oorgaan na angstigheid en woede. Dit is dan wat ek alles oorboord kan gooi en sonde doen; wanneer my emosies my beheer in plaas daarvan dat ek beheer oor my emosies het. En hierdie emosies van my maak my onwel voel sodat ek dit wil uitreageer deur wraak te neem: "'n oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand" (Matt 5:38-40). Ek dink ek sal dalk nog beter voel as ek dalk twee oë vir 'n oog en twee tande vir 'n tand kan neem. Die persoon wat egter die meeste deur hierdie gedagtes van my ly is ekself. Dit ontstel my gemoed en benadeel my, sowel geestelik as liggaamlik. Dit verswak my immuunstelsel en verhoog my bloeddruk só dat ek dalk aan 'n beroerte of 'n hartaanval kan sterf.

Dus sal ek tóg die volgende raad gebruik om van my ontsteltenis en woede ontslae te raak:  ek sal tien keer stadig en diep asemhaal, en dit wat my pla aan God oordra, want Hy sê: “My kom die wraak toe en die vergelding” (Deut 32:35; 53-vertaling) en Paulus sê: 'As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here' (Rom 12:19).

Maar vereers moet my verhouding met God reg wees. FB Meyer het dit soos volg gestel: Ons moet nooit vergeet dat daar geen beskerming of hulp kan kom sonder daardie noodsaaklike eenheid met Christus nie. Christus het vir ons toegang verkry tot die heiligdom van God, waar ons kan skuil onder die vlerke van God se teenwoordigheid. As ons saam met God wil loop, en as ons die heerlike gemeenskap met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus, wil geniet, mag daar niks tussen ons en God staan nie.

As ek in hierdie verhouding met God staan, sal ek voortdurend bewus wees van Sy nabyheid. En as ek bewus is van Sy nabyheid sal ek twee keer dink voordat ek my ontstel, twee keer dink voordat ek kwaad word, twee keer dink voordat ek in woede uitbars .... En ek sal weet dat Hy naby my is wanneer mense vyandig teenoor my optree.

Ek gaan van nou af probeer om nie ontsteld te raak nie en op die Here vertrou om my hierin te ondersteun.

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css