Die Weg

 

Die wêreld in nood wat roep om redding (1)

Die Here Jesus spreek van 'n tyd wat kom waarin die “mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Lukas 21 : 26; 53-vertaling).

Die mensdom in nood! Wat het dan van sy selfversekerdheid geword? Het hy dan nie die krag om self sy lewe uit te werk nie? Waar het sy roem en vertroue in sy eie wetenskap en mag dan beland? Waarom beëindig hy dan nie die dinge wat smart en onrus bring nie: oorloë, haat en armoede? Dit bring ons by die eintlike kern van die saak: die mens staan magteloos teenoor al hierdie dinge. By al sy wetenskap en kennis is daar één ding wat buite sy beheer is, en dit veroorsaak sy radeloosheid.

Die mensdom staan radeloos teenoor die neiginge van sy eie hart. In sy dwaasheid dink hy dat hy die vermoë het om sy eie toekoms te skep. In sy eie oë is hy wesenlik goed. Alle sogenaamde “gevorderde opvoeding” gaan van hierdie leuenagtige veronderstelling uit.

Hulle wat egter uit die Woord van God hulle kennis van die mens kry, weet dat dit nie so kan wees nie. Hulle weet dat die mens die norme van die lewe verloor het – 'n sondaar wat magteloos staan teenoor die begeertes van sy eie hart. Dit dwing ons om saam met die groot wetenskaplike, Albert Einstein, te erken: die werklike probleem van die mensdom lê in sy gees! Ons geslag word gedwing om die dieptes van die goddeloosheid van die menslike hart te sien en te glo.

Die hart van die mens is daartoe in staat om hierdie aarde in 'n hel te omskep. En juis dáárteenoor staan die mens magteloos. Met al sy kennis en wetenskap, met al sy tegniek en bomme kan hy nie een mens se hart verander nie. Die universiteite kan die mens se brein opvoed en sy hande behendigheid leer, maar die sondige hart, dít kan hulle nie verander nie.

Die wêreld verkeer in nood wat roep om redding. Die mens is sy eie grootste vyand. Die massas is vreesbevange en radeloos, want die toestande spot met alle menslike pogings om dit anders te maak. En dit kan ook nie anders gemaak word nie, tensy dít wat al die ellende en stryd veroorsaak, verander kan word: die menslike hart. Hierin staan almal egter magteloos - en daarom sink die wêreld dieper in sy nood.

Die vaart die dieptes in versnel by die dag omdat die geestelike en morele remme by miljoene nie meer werk nie. Omdat die breë menigtes al meer van God vervreemd word; omdat die kennis van die Woord van God nie meer vir die mense belangrik is nie; en omdat die Kerk nie meer sy roeping uitleef nie. Die gedagtes, drifte en begeertes van die sondige menslike hart het al meer die plek van die Woord van God ingeneem. Dié wat God nie ken nie of nie wil ken nie, leef volgens die wet van die vlees: alles draai om selfsug (sien Galasiërs 5:19-21). Dit is die wet van die oerwoud.

Die vrugte hiervan sien ons elke dag. Hierdie mense lewe eenvoudig by God verby. Hy bestaan nie vir hulle nie. Waarom ignoreer hulle sy sedewette en minag sy genademiddels? Omdat hulle nie uit die Gees van God lewe nie. Die nood word groter omdat die fondamente omgegooi word. Waar God uitgeskakel word, is daar geen remme meer nie!

Die woorde van die Here Jesus Christus kom vandag met erns tot elke gelowige:  “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.” (Matt 5 : 13). Is dit nie die eintlike groot probleem van die wêreld vandag nie? Dat soveel van die Christendom sout is wat laf geword het! Hoeveel van die lidmate van die Kerk is werklik mense wat in lewende verbinding met Christus staan, en wat gewillig is om hulle geloof konsekwent in die lewe toe te pas? Só alleen kan hulle werklik die sout in die wêreld wees, wáár God hulle ook al geplaas het. Is dit nie waar dat die getalle wat hiervoor lewe, baie ver in die minderheid is nie? En as dit so is, “waarmee sal dit gesout word?

Waarlik, die wêreld is in nood soos nooit tevore nie! Durf ek so voortlewe? Ek, wat die stroom van Godvervreemding tot hiertoe miskien help versterk het, durf ek dit verder doen? Ek, wat tot hiertoe miskien in my wêreldgesindheid en afsydigheid soos smaaklose sout is, durf ek so voortlewe?

(word vervolg)

Dr JCG Kotzé: Durf ek so voortlewe? (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css