Die Weg

 

Kyk na die “hoeveel meer” in die lewe

Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?” - Matteus 6:25.

Miskien moet ons eers kyk na die waarskuwing in Matteus 13:22: “die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord”. Die hunkering na aardse dinge versmoor die lewe wat God ons gee.

Daar is al baie oor hierdie onderwerp gepraat en geskryf. Maar tog moet dit elke keer weer herhaal word omdat daar baie min mense is wat volkome beskerm is teen die aanslae van die aardse lewe. En dit is nou eenmaal iets waarteen min mense weerstand kan bied. Dit kom uit verskillende oorde: dit kan die gebrek aan geld wees, of die sug na meer geld; die verlange om gewild te wees onder ander mense; óf dit kan ook net kom vanuit die moeilike omstandighede waarin jy jou bevind. Dit is 'n konstante stroom wat soos 'n vloed op 'n mens kan afkom. En die enigste verweer daarteen is om die Gees van God toe te laat om jou lewe te beheers.

Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe...”. Die Here Jesus sê vir ons dat daar slegs één ding voorop in ons lewens moet wees: ons verhouding met Hom. Maar ons “gesonde verstand” rebelleer daarteen en skree: “Dit is absurd, ek moet tog daaroor dink hoe ek gaan lewe en wat ek gaan eet, drink en aantrek. Ek moet dink aan my huis!”

Maar pasop wat jy dink. Want wie ken jou omstandighede beter as Jesus Christus self? As die Here Jesus hierdie woorde sê dan bedoel Hy daarmee dat die aardse sorge nie die eerste plek in ons lewens moet inneem nie. Ons verhouding met God is belangriker as al hierdie dinge en moet altyd eerste geplaas word.

Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” (Matt 6:34). Hoeveel probleme wag vandag vir jou? Watter klein duiweltjies kyk vir jou en vra: wat is jou planne vir vandag, volgende week of die komende jaar? Jesus sê vir jou moenie jou te veel daaroor bekommer nie.  Ds Hentie Krüger het dit só gestel: “Wat help dit‚ en waar bring dit ’n mens? Waaroor jou moeg dink aan wat moontlik volgende jaar kan gebeur? Waarom jou kwel oor môre as vandag nog aan die gang is? Miskien moet ons maar net ’n muur om vandag bou. Bou ’n muur rondom vandag en begin weer môre met ’n nuwe muur. ..... Daar is so iets soos verantwoordelikheid ook. Maar daar is ook net soveel wat jy aan die saak kan doen en dan moet jy dit verder aan die Here oorlaat‚ met ’n muur om. “ (Uit: Tree vir tree)

Dus, hou liewer jou gedagtes op die “hoeveel te meer” van jou Hemelse Vader: “As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie” (Matt 6:30).

- dw -

(Met erkenning aan Oswald Chambers: My Utmost for His Highest)


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css