Die Weg

 

Wie sê jy vir die vyand is jou Verlosser?

Ons Verlosser is die Heilige van Israel, sy Naam is die Here die Almagtige.” - Jesaja 47:4.

Is daar hoop vir die kinders van God?

Dit voel vir ons of die kerk van Christus in die swakker posisie is vandag. Dié deel van die bevolking wat geen erg het aan die gesag van die Bybel nie, is groter. Die media word oorheers deur die dinge wat nie tot eer van God is nie. Die politieke wêreldmagte is nie Christelik georiënteer nie, inteendeel! Die nie-Christelike geloofsgroepe se fanatiese vervolging van die kerk neem toe. In die 2016 Adventstyd hoor ons die vraag: Sal die situasie ooit verbeter vir die Christelike kerk op aarde?

Dieselfde vraag is deur die ou Israel gevra. Sal die volk ooit weer uit ballingskap verlos word? Jesaja 47 kan ook vandag vir ons hoop gee. Die volk van die Here is weens aanhoudende afgodediens in die hand van die magtige Babel oorgegee (47:6). Hulle het dit verdien, maar daar sou verlossing kom. In Jesaja 47 word sarkasties met Babel gespot. Sy wat vroeër soos 'n prinses met fyn klere aan bewonder is, sou soos 'n slavin verneder word (47:1). Die heidene het op hulle besweerders en toordery staatgemaak. Nuttelose afgodediens! “Laat jou voorspellers nou optree, laat hulle jou help, hulle wat die hemel opdeel en die sterre bekyk, hulle wat elke maand bekend maak wat oor jou gaan kom. (47:13). Die Babiloniese magte het hulle bo God verhef en hulle vergryp. Daarom sal hulle gestraf word. Die antichristelike staatkundige mag van die eindtyd word ook Babilon genoem. “Sy sê by haarself: ‘Ek sit as koningin op my troon. Ek is nie weduwee nie, en treur sal ek nooit nie." (Openbaring 18:7). Onaantasbaar! Tog sal God haar tot 'n val bring. Daar sal geroep word: “Geval, geval het die grote Babilon.” (Openbaring 18:2). Soos Babel van ouds sal sy verneder word en alle mag verloor!

Die Kerk van Christus het 'n VERLOSSER nodig, net soos die ou verbondsvolk. Toe het Babel gehoor: "Ons Verlosser is die Heilige van Israel, sy Naam is die Here die Almagtige". (Jesaja 47:4). Met Advent roep ons in nood, want die wêreld het 'n Verlosser nodig. En Hy het gekom! Sy Naam is Jesus, Verlosser. Hy het alles volbring wat vir ons verlossing nodig is, en uit die graf opgestaan. Op Hom is ons hoop. Hy heers nou as Almagtige en Hy sal weer kom. Die gelowiges sal uit die mag van die goddelose vyande verlos word. Dan sal ons roep: “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning.” (Openbaring 19:6). Elkeen wat sy of haar vertroue op die ware God plaas, sal gered word.

Ken jy jou Verlosser? Wie sê jy vir die vyand van die Kerk is Hy?

Sy Name sê wie Hy is (Jesaja 47:4). Verlosser – die een wat redding bring vir mense wat hulleself nie kan verlos nie. Heilige van Israel – sy optrede is sonder foute, volmaak in sy bedoelinge, heilig, onbesproke. Die Here die Almagtige (die HERE van die leërskare (1933/53 Vertaling)) – almagtig om te beskerm, te red, te laat herleef, nuut te maak.

Ken jy die ware God so? Vertrou dan op Hom alleen en dien Hom met oorgawe!

 

Ons vra gebed vir...
=> Vir gelowiges wat hoop verloor het, om weer die ware God te leer ken en te dien.
=> Vir lofprysing aan die enigste ware God, ons almagtige Verlosser.
=> Vir geloofskrag en oorwinning oor die geestelike vyande deur die wapenrusting van God.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css