Die Weg

 

Maak seker waarop jy jou hoop vestig

“Wanneer julle na die hemelruim opkyk, die son, die maan en die sterre, enige hemelliggaam, moet julle nie julle hoop op hulle vestig nie. Moet julle nie laat verlei om hulle te vereer en te dien nie. Die Here julle God het hulle toegeken aan al die volke op die aarde.” - Deuteronomium 4:19 (83-vertaling).

Ook hier aan die einde van November weet ons dat 'n mens nie sonder hoop kan lewe nie. Sonder sekerheid dat jy krag en moed, troos en vrede sal kry, sou niemand vir die volgende dag of die volgende jaar kans sien nie.

Uit hierdie baie ernstige vermaning van die Here teen afgodery weet ons egter hoe belangrik dit is dat jy seker maak waarop jy jou hoop vestig. Eintlik lees ons in vers 19 nie die woord "hoop" in die oorspronklike Hebreeus nie. Letterlik vermaan Moses die volk om nie afbeeldings van enigiets as afgode te vereer nie, en ook nie so na enige hemelliggaam (soos die son en maan en sterre) op te kyk om dit te vereer en te dien nie (soos in die 1953-vertaling).

Afgodery is mos om nie op God alleen te vertrou nie, om iets anders te hê waarop jy jou hoop vestig. As 'n mens dink jy kan vir jou toekoms staatmaak op mensgemaakte dinge of selfs op iets anders in die skepping, dan soek jy jou eie ondergang. Dan mis jy God se sorg en trou. Dan kom jy te laat agter Hy is 'n verterende vuur. Pasop vir afgode, jou lewe is op die spel!

Moses het self God se straf beleef toe hy op homself vertrou het om vir die wolk water uit die rots te laat kom (Numeri 20:12).

Die troue God van die verbond, wat sy volk uit Egipte verlos het, het ons ook deur Jesus van die afgode verlos. Die God wat ons deur Jesus syne gemaak het, is ons vaste Hoop. Op Hom kan ons vertrou!

Ds GNV (Nico) Botha
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css