Die Weg

 

'n Lewe vol ironie

“Want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.” - Hebreërs 13:14.

Die lewe is vol ironie (vol van teenstellings).  As ons jonk is, gooi ons ons gesondheid weg om geld te maak, en as ons oud is, spandeer ons daardie geld om ons gesondheid te probeer terugkry. Ons leef asof ons nooit sal sterf nie, en ons sterf asof ons nooit geleef het nie. Ons bekommer ons só oor die toekoms dat ons die hede vergeet. So lééf ons nie meer nie; nie in die toekoms nie en ook nie in die hede nie. Ons wens ons hele lewe om. As ons kinders is, wil ons soos grootmense wees en as ons oud is, wil ons graag weer die vryheid en beweeglikheid van kinders hê.

Die lewe is sowaar vol ironie, maar gelowiges hoef nie die lewe op die maat daarvan te leef nie. Ons het die wonderlikste boodskap in die hele wêreld: die goeie nuus van God self. Dit is 'n boodskap wat mense se lewe kan verander, wat die toekoms vir hulle kan oopsluit. As Christene kan ons hierdie lewe uit die krag van God se onverdiende goedheid leef. Ons het genoeg rede om maar net te wees wie ons is: God se kinders, mense wat op pad is na die hemelse blyplek wat aan die kom is. Dit sal die ironie van die lewe so 'n bietjie afplat.

As gelowiges kan ons voluit vir God leef, want ons is veilig in sy hande. By God hoef ons ook nie bekommerd te wees oor dinge soos beweeglikheid of wat die toekoms inhou nie. God sal eendag ons trane afdroog, ons siektes genees. Ons kan maar net voluit leef, want selfs al sterf ons sal ons tog vir altyd by God wees.

Moenie jou lewe onnodig ironies maak nie. Dit help nie jy weet hoe om te leef, maar jy leef nie so nie.

Uit: “Die Eenjaar-boodskap met oordenkings” deur Jan van der Watt - Met die vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) www.cum.co.za.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css