Die Weg

 

As 'n geloofsheld faal (4)

Lees die verhaal in Genesis 34:1-31, asook die vorige drie boodskappe.

In die vorige boodskappe het ons gesien dat Jakob self die blaam moes dra vir alles wat gebeur het. Hy het sy vaderlike pligte in 'n groot mate versuim. En dit is oorgedra op sy seuns. Ons lees:  “En die seuns van Jakob het uit die veld gekom toe hulle dit hoor; en die manne was gegrief en baie kwaad, omdat hy ‘n skanddaad in Israel begaan het deur met die dogter van Jakob gemeenskap te hou: so iets mag nie gebeur het nie.” (Gen 34:7; 53-vertaling).

Ja, dit was definitief 'n skanddaad om Dina, die dogter van Jakob, te verkrag. Dit het die woede van haar broers opgewek. Die saadjie was geplant vir 'n goed berekende volksmoord. Die broers stem oënskynlik toe dat hulle hul met die Sigemiete sou verbind, op voorwaarde dat alle mans in die stad hulle besny. “Toe antwoord die seuns van Jakob vir Sigem en Hemor [ook vertaal as Gamor], sy vader, met bedrog ...  en sê vir hulle: Ons kan dit nie doen om ons suster aan ‘n man te gee wat die voorhuid het nie, want dit sou ‘n skande vir ons wees. Net op hierdie voorwaarde kan ons inwillig: as julle word soos ons deurdat almal wat manlik is onder julle, besny word. Dan sal ons ons dogters aan julle gee, en ons sal julle dogters vir ons neem; en ons sal by julle woon en een volk word. Maar as julle nie na ons luister om besny te word nie, dan neem ons ons dogter en ons trek weg.” (Gen 34:13-17; 53-vertaling).

Die Sigemiete stem in om dit te doen. Dan gebeur dit: “Maar op die derde dag, toe hulle in die pyn was, neem die twee seuns van Jakob, Símeon en Levi, broers van Dina, elkeen sy swaard, en hulle oorval die sorgelose stad en slaan almal dood wat manlik was. Hulle slaan ook Hemor en sy seun Sigem dood met die skerpte van die swaard; daarna neem hulle Dina uit die huis van Sigem uit en vertrek. Die seuns van Jakob het op die gesneuweldes afgekom en die stad geplunder, omdat hulle hulle suster onteer het. Hulle kleinvee en hulle beeste en hulle esels .. het hulle weggeneem. En al hulle goed en al hulle kinders en hulle vroue het hulle as gevangenes weggevoer en as buit, en ook alles wat in die huise was.” (Gen 34:25-29; 53-vertaling).

Die broers het wraak geneem. Maar hoe? Hulle het God se heilige verbondsteken van die besnydenis vir hulle eie doeleindes misbruik. God het nie aan Abraham hierdie teken gegee om ander mense mee dood te maak nie, maar om in hulle besondere verhouding met God 'n reine en heilige lewe te lei. In plaas daarvan lok Jakob se seuns die heidene in die Naam van God in hierdie besnydingseremonie in om hulle liggaamlik te verswak en dood te maak.

Maar wraak roep altyd om wraak. En Jakob vrees vir sy lewe: “Toe sê Jakob vir Simeon en Levi: Julle het my in die moeilikheid gebring, want julle het my naam sleg gemaak by die mense van hierdie land, die Kanaäniete en die Feresiete. Ek het maar 'n klein klompie mans by my. As die mense van die land almal saamstaan teen my, sal hulle my en my mense verslaan en ons om die lewe bring.” (Gen 34:30; 83-vertaling).

Is daar nog 'n uitweg?

Dit is die groot vraag. Sou God nog sy beloftes aan Jakob gestand doen, nieteenstaande sy sondes en dat hy sy vaderlike pligte verontagsaam het? Ja, Hy sou. God kom weer na Jakob en spreek die onrus in sy hart aan. “Daarna het God vir Jakob gesê: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar ‘n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was vir jou broer Esau.” (Gen 35:1). Die boodskap van God aan Jakob was helder en duidelik: “Wees nou gehoorsaam en gaan die hele pad wat ek vir jou aangewys het. Ek wil nieteenstaande hierdie ongehoorsaamheid en sonde nog met jou wees. Ek sal my hand nie van jou wegneem nie. Ek bly getrou!

En hierdie keer reageer Jakob soos hy aanvanklik moes gereageer het. Nie halfhartig nie, maar voluit.Toe sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan; en laat ons klaarmaak en optrek na Bet-el; en ek sal daar ‘n altaar bou vir die God wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die weg wat ek gegaan het. Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is. En toe hulle weggetrek het, kom daar ‘n skrik van God op die stede rondom hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie.” (Gen 35:2-5; 53-vertaling).

Jakob ontvang genade sodat hy weer die beheer oor sy huis kon opneem en hulle tot ware diens aan God kon oproep. Hy erken dan ook die erns van dít wat gebeur het sodat hy later op sy sterfbed die volgende seën oor Simeon en Levi uitspreek: “Simeon en Levi is die een soos die ander: altyd gereed vir geweld.  Aan hulle beraadslagings wil ek geen deel hê nie, in hulle vergaderings wil ek nie kom nie, want koelbloedig het hulle mense vermoor, roekeloos het hulle diere mishandel. Die straf van God sal hulle tref oor hulle geweldpleging, hulle onbeteuelde drif: hulle sal uitmekaar gejaag word in Jakob, versprei word tussen die stamme van Israel. ” (Gen 49:5-7).

Laat wat met Jakob en sy familie gebeur het, ook vir ons 'n les wees. Laat ons ons bekeer. Laat ons ons onder die magtige hand van God neerbuig, sodat ons die genade van God kan ontvang.

Op sy sterfbed roep Jakob: “Op u verlossing wag ek, HERE!” (Gen 49:18). [Jakob profeteer op sy sterfbed van die komende Messias as hy sy seën oor Juda uitspreek uit wie se nageslag die Christus gebore sou word]. Dit is hierdie verlossing waaraan ons ook vandag deel het. Daarom word Jakob ook onder die geloofshelde in Hebreërs 11 genoem - nie vanweë sy goeie werke nie, maar op grond van sy geloof en die genade wat God aan hom geskenk het. Mag dit ook so met ons wees!

Wolfgang Wegert: Rache und ihr Fluch (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css