Die Weg

 

Die mens kan nie self sy pad kies nie

“Ek weet, Here, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.” - Jeremia 10:23.

Die woorde hierbo kom uit Jeremia se tempelpreek. Omring van baie mense, staan die jong profeet tussen die magtige pilare van die buitenste voorhof van die tempel. Hierdie mense is tempelmense – mense wat hulle gebonde voel aan die tempel; mense wat in die waan leef dat hulle veilig sal wees as hulle binne die tempel is. Hulle sê: “Ons is veilig! Dit is die HERE se tempel, dit is die HERE se tempel, dit is die HERE se tempel!” (Jer 7:4). Wie kan ons leed aandoen? Niks kan met ons gebeur nie. Ons is mense van die tempel!

Maar Jeremia se woorde is hard en is daarop gerig om hierdie waan te verpletter. As tempelbesoekers tempelaanbidders word, en nie ag slaan op die God van die tempel nie en by Hom verbyleef, dan onttrek Hy Hom van die tempel. Dan word dit net 'n gebou sonder God.  En Jeremia sien en profeteer van die verwoesting wat sou kom. “Hoor! Daar kom 'n boodskap, en 'n groot gedruis uit 'n land in die noorde! Hulle gaan die stede van Juda puinhope maak, lêplekke van jakkalse.” (Jer 10:22). 

En dan tref sy ontstellende woorde die verbysterde skare: “Ek weet, HERE, die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.” (Jer 10:23).

Ja, daar in Jerusalem het hulle gehandel volgens hulle eie sienings en drifte. So laat God ons soms ook 'n tyd lank voortjaag. Totdat Hy op 'n dag 'n stok in ons wiele steek. Dan kry ons 'n boodskap wat ons van skrik laat verstyf. Dan eers besef ons dat ons op die verkeerde pad is. Nee, daardie motorongeluk was beslis nie op ons agenda nie. Maar dit was op God s'n. Ons staan die oggend op met 'n kop vol planne, die middag lê ons in die hospitaal. En wanneer ons weer wakker word uit 'n toestand van bewusteloosheid, dan weet ons ook: “die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.

Uit: “De Stem Achter U” deur ds Gabe van Duinen
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css