Die Weg

 

Maak jy ook verskonings om Jesus nie te volg nie!

Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’ Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak  - Lukas 14:17-18.

In Lukas 14:15-24 lees ons die gelykenis van die heerlike maaltyd, waarheen 'n man (die koning, volgens Mat 22) baie mense genooi het. Maar die genooides het elkeen 'n verskoning gehad om nie te kom nie. Dit slaan 'n mens tussen die oë! Waarom besef mense nie die voorreg van so 'n uitnodiging nie?

Die koninkryk van God is soos 'n groot maaltyd waarheen mense genooi word. Die Koning, Jesus self, nooi ons na sy bruilofsfees. En wat 'n fees is dit nie! “Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” (Openbaring 19:9). Die genooides kan hulself baie gelukkig noem. Volmaakte heerlikheid, waar verlostes saam met God feesvier in sy hemelse koninkryk. Wie van sy kos eet, sal lewe tot in ewigheid, sal nooit weer honger word nie, sal vrede in sy hart hê, sal liefde in oorvloed ontvang en uitdeel, sal een met God wees! Jesus beloof: “die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Joh 4:14). Sy geestelike dors sal vir ewig geles wees! Strome van water sal uit sy binneste vloei. Vervul met die Gees van God.

Dit is ondenkbaar dat mense die uitnodiging ignoreer! En tog! Elkeen wat genooi is, het verskoning gemaak. 'n Stuk grond, of 'n paar nuwe osse, of 'n huwelik.

Jesus het self die mense na sy bruilofsmaal genooi, maar baie van die Jode het verskonings gehad. Sy apostels is met die uitnodiging gestuur - ook baie verskonings! Vandag nog word jy na Koning Jesus se maaltyd genooi. Die fees is gereed. Kom! Neem deel. Maak jy ook verskoning?

* My besittings vra te veel aandag. Ek het nie nou tyd om Jesus se uitnodiging aan te neem nie.

* My beroep neem nou al my tyd. Ek studeer nog. Gee my net kans om my besigheid te vestig. Ek moet nou hard werk om bevordering te kry. Verskoon my, Jesus, ek sal nie daar opdaag nie!

* My verhoudinge met mense is tog so belangrik. My vriende, my verloofde, my sportmaats, my braaipelle. Ek maak verskoning, Jesus, my verhouding met U staan nou maar onder aan my lysie.

PASOP! Die tyd van uitnodigings gaan verby. Daar sal 'n tyd kom wat Jesus 'n oordeel gaan vel oor elkeen wat verskonings soek. Hulle sal nie hulle mond aan my maaltyd sit nie! (Luk 14:24). Jy sal vir ewig verlore gaan!

HOOR TOG! Antwoord “Ja” en volg Jesus na sy maaltyd. Moenie besittings, of jou beroep, of jou vriende, of geliefdes, as verskonings gebruik nie! Daar is net een so 'n bruilofsmaal. Dit is die heel belangrikste uitnodiging wat jy ooit sal ontvang!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css