Die Weg

 

Wanneer wyse woorde 'n ramp afweer

“Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie af afgespring en vir Dawid eerbiedig gegroet. Sy het diep gebuig voor hom en gesê: “Verskoon tog die onreg, Meneer! Mag ek vertroulik met u praat? Luister tog na my woorde. Meneer moet hom tog nie steur aan daardie verkeerde mens, aan Nabal nie, want hy is net soos sy naam. Sy naam beteken dwaas, en dwaas is hy.” -1 Samuel 25:23-25.

'n Persoon wat dwaas optree, is nie noodwendig 'n onkundige persoon nie. 'n Dwaas het net 'n verkeerde ingesteldheid teenoor die lewe. Dit was die geval met Nabal. Nabal moes beslis 'n goeie kop op sy lyf gehad het, want hy was 'n ryk boer.

Dawid en sy manskappe was in die verlede baie goed vir Nabal, soos Nabal se veewagters dit duidelik gestel het: “Solank ons saam met hulle in die veld rondgetrek het, is ons nie kwaad aangedoen nie, en het ons niks vermis nie. Hulle het ons dag en nag beskerm so lank as ons die kleinvee naby hulle opgepas het.” Maar nieteenstaande alles wat Dawid vir Nabal gedoen het, het hy Dawid so beledig dat Dawid met vierhonderd gewapende manskappe opgeruk het om Nabal se hele boerdery tot niet te gaan maak. Gelukkig het Nabal 'n besonderse vrou gehad: “Die vrou het 'n goeie verstand gehad en sy was mooi” (1 Sam 25:3). Toe sy hoor wat Nabal met Dawid se mense gedoen het, het sy gou 'n plan gemaak om 'n ramp te voorkom (1 Sam 25:22). Sy het Dawid met 'n versoeningsgeskenk tegemoet getrek (1 Sam 25:18). Dit was egter haar gesindheid en woorde wat by Dawid die deurslag gee. Daarom sê Dawid aan haar: “Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem.” (1 Sam 25:33).

Hoe kon hierdie vrou dit uithou by haar dwase man? Hoe kon sy die dreigende ramp afweer? Deurdat sy in haar lewe, en in haar opvattings oor die lewe, vir die Here 'n plek gegee het (1 Sam 25:26-31). Daarom kon sy die verantwoordelikheid vir haar man se dwase optrede op haar neem (1 Sam 25:24, 28). Daarom kon sy haar woorde in hierdie krisisoomblik só kies dat sy vir Dawid kalmeer (Lees 1 Samuel 25:24-34).

Daar is 'n tyd om stil te bly en daar is 'n tyd om te praat. En wanneer ons praat moet dit wees uit die wete, en daarvan getuig, dat die Here ons lewens in sy hand hou, soos Abigajil gedoen het.

Met erkenning aan: Uit die Beek 1981.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css