Die Weg

 

Om jou eie skuld te erken

Dink aan my, Here, in u liefde vir u volk, sluit my ook in by u redding, dat ek die voorspoed van u uitverkorenes mag aanskou en mag deel in die blydskap van u volk, my mag verheug saam met dié wat aan U behoort. Ons het gesondig, net soos ons voorvaders, ons het verkeerd gedoen, ons is skuldig. - Psalm 106:4-6.

Wanneer jy erg verbrou het in die lewe en kniediep in die moeilikheid is, soek 'n mens iemand op wie jy die skuld kan pak. Om die verantwoordelikheid vir jou eie verkeerde dade op iemand anders af te skuif, is vanaf die vroegste tye deel van die mens se wese, soos die verhaal van die sondeval ook getuig (Genesis 3:12 ev).

Maar die psalmdigter kyk anders na die sondes van die verlede. Hy gee 'n lang lys van al die verkeerde dade van die vorige generasies, maar sê tegelykertyd ook: “Ons het gesondig, saam met ons vaders” (v.6 53-vertaling).

Die digter van hierdie psalm sien ook sy eie persoonlike bydrae wat tot die ellende van sy volk aanleiding gegee het. Hy verontskuldig homself nie. Hy sien homself as een van die ry sondaars wat elkeen op sy eie manier persoonlik bygedra het tot die verval en die uiteindelike vernietiging en verstrooiing van sy volk. Maar hy het ook die vrymoedigheid om homself na God te wend, sy eie skuld en die skuld van sy volk te bely, en God te dank dat Hy hom begenadig het sodat hy deel kan wees van God se uitverkorenes.

Hoe is ons ingesteldheid oor die foute en sondes wat ons in die verlede begaan het? “Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang” (Spreuke 28:13).

Uit: Neukirchener Kalender 2012
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css