Die Weg

 

Pasop vir wolwe in skaapsklere

“Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei.” - Handelinge 20:29-30.

Paulus waarsku die Efesiërs teen gevare van valse leraars wat gelowiges en selfs leiers op 'n dwaalspoor bring. Christus het geestelike gawes aan mense gegee om die liggaam van Christus (sy Kerk) te verryk en te bou (Efesiërs 4:11). Satan, wat van die begin af 'n bedrieër is, probeer om valse leraars met valse bekwaamhede binne die Kerk te ontplooi. “Sulke mense is vals apostels; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is. En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as 'n engel van die lig.” (2 Korintiërs 11:13-14).

Jesus het sulke leraars wolwe in skaapsklere genoem: “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (Matteus 7:15-16). Om sterk en suiwer te bly, moet 'n kerk op sy hoede wees vir hierdie wolwe; en om op ons hoede te wees, moet ons geestelik volwasse wees (Efesiërs 4:13).

Satan is 'n skelm vyand van Jesus Christus se Kerk. Hy probeer om haar van buite af deur teenstand of vervolging te vernietig. Hy sypel ook in die geledere van die gelowiges in en vind gewillige mense wat sy slagoffers word om sy bedrieglike planne uit te voer. Dit is verstommend hoe baie mense deur sy vermomming as 'n "engel van die lig" mislei word. Sommige van die aantreklikste, bes gemanierde, minsaamste en innemendste mense is instrumente in sy hande om menigte vir die waarheid te verblind.

Die verdraaiing word dikwels nie maklik raakgesien nie. Die woorde wat gespreek word val vir ons baie keer so lekker op die oor! Dinge wat ons soms so graag wil hoor. Maar pasop, daar is 'n hoek binne-in die aas weggesteek wat bedoel is om jou op die regte tyd te vang. Daarom sê Paulus: “Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.” (Romeine 16:18).

Ons moet dus altyd op ons hoede wees om nie in 'n strik te trap nie! Daarom moet ons die Woord van God lees en bestudeer sodat ons in staat sal wees “om ander met die gesonde leer aan te moedig en die argumente van teenstanders te weerlê.” (Titus 1:9). En laat ons saam met Dawid bid (Psalm 141:9-10): “Beskerm my teen die strik wat hulle vir my gestel het, teen die valstrikke van dié wat onreg doen. Laat die goddeloses gevang word in hulle eie nette, maar laat my ongedeerd verbykom.” Amen.

-dw-

Met erkenning aan Lud Golz: Leer God beter ken.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css