Die Weg

 

Hierdie is nie sagte woorde nie!

As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” - Matteus 6:14-15.

As ons na ons Christelike samelewing kyk, en ja selfs tot in die kerk, dan sien ons baie Christene wat maar liewer hierdie uitsprake van Jesus wil miskyk. Ons lees dit, maar oordink dit nie. Ons laat toe dat dit by ons soos water van 'n eend se rug afloop. Kyk baie mooi na hierdie teks: “en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree ” (Matt 6:12) en “vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree” (Luk 11:4). 

Wat sê die woorde “soos ons” en “want” hierbo uit die Onse Vader-gebed vir ons? Die gebed wat ons Here Jesus Christus vir ons as voorbeeld gegee het. Ons moet met ander handel soos ons verwag dat God met ons sal handel. As ons dit nie doen nie, sê ons dat ons nie God se vergiffenis nodig het nie. Dan impliseer dit dat ons dink dat ons sonder sonde is. Die apostel Johannes sê daarvan: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.” (1 Joh 1:8). God is genadig en Hy vergeef altyd weer, maar ..... Hy verwag dieselfde gesindheid in ons teenoor ons medemens. As ons ander mense nie kan vergewe vir wat hulle [dalk en soms nie eens] aan ons gedoen het nie, verhef ons ons bo God en sê ons dat ons nie God se vergiffenis nodig het nie! Daarom hierdie streng woorde van die Here Jesus: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” En dit is só belangrik vir Hom dat Hy dit weer herhaal in die vorm van 'n gelykenis. Sien Matteus 18:23-35. Die Here Jesus gebruik in hierdie gelykenis geld as 'n voorbeeld sodat almal dit kan verstaan. Dit handel egter oor ons onvergewingsgesindheid teenoor mekaar. Hy sluit dit gelykenis af met hierdie woorde:  “So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

As ons sê dat ons in Christus glo, dan stel ons onsself onder die wet van sy liefde. Dan aanvaar ons die vergewing van sondes deur sy bloed. Maar as ons onsself nie onder die wet van sy liefde stel nie, dan verwerp ons Hom. En dan word Matteus 6:15 van krag.

Moet nooit met wraakgedagtes in jou binneste rondloop nie. As jy iemand vergewe het bring dit rus en vrede in jou gemoed. Daar is niks wat 'n mens geestelik en liggaamlik méér uitput as wraakgedagtes nie. Dit bring verwydering tussen jou en jou hemelse Vader en verswak jou immuun-stelsel. Daarom sê die Bybel vir ons: 'Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.' (Rom 12:19).

Mag die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css