Die Weg

 

God is dieselfde, oor alle tye heen

“En daar was hongersnood in die land, buiten die eerste hongersnood wat in die dae van Abraham gewees het. Daarom het Isak getrek na Abiméleg, die koning van die Filistyne, na Gerar. En die HERE het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys. Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het. So het Isak dan in Gerar gebly.” - Genesis 26:1-6 (53-vertaling).

Abraham was lankal dood. Maar die verbond van God met Abraham het ook vir sy seun Isak gegeld. Ons sien hier hoe die Here hierdie verbond weer bevestig om Isak te versterk toe hy onseker en bekommerd was as gevolg van die hongersnood wat daar in die land geheers het. Daarom sê die Here: “Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën”. En Isak was aan God gehoorsaam en het in die land gebly en hom in Gerar gevestig. Dus: vertrou op God! Moenie jou eie uitweë probeer soek nie! Moenie bang wees vir wat nog mag voorlê nie!

Maar hoe gou vergeet Isak weer van God se beloftes en probeer hy sy eie plannetjies maak, soos sy vader Abraham voor hom gedoen het en sy seun Jakob self ook sou doen. Want net in die volgende vers lees ons: “En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou - anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien.” (v. 7). Dan sien ons hoe die Here deur die heidense koning Abiméleg werk om Isak weer tot hulp te kom én hom tot orde te roep: “En toe hy al ‘n lang tyd daar was, kyk Abiméleg, die koning van die Filistyne, deur die venster uit en sien hoe Isak speel met Rebekka, sy vrou. En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor! En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ‘n skuld oor ons gebring het! Daarop gee Abiméleg bevel aan die hele volk en sê: Wie hierdie man of sy vrou aanraak, sal sekerlik gedood word.” (v. 8-11). En nieteenstaande die hongersnood wat in die land geheers het, seën die Here vir Isak tog oorvloedig: “Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën.” (v. 12). 

Maar alles gaan nie altyd voor die wind nie want ons lewe in 'n gebroke wêreld waarin daar gedurig stryd heers. Dieselfde het ook vir Isak gegeld. Sy bure, die Filistyne, het uit pure naywer die waterbronne wat nog deur Abraham gegrawe is, toegestop en met grond opgevul. Hy is voortdurend agtervolg deur vyandskap, afguns en stryd, soos die name van sy putte getuig. Maar elke keer het hy hom net weer onttrek aan die stryd en sy put prysgegee en weer op 'n ander plek gaan grawe. Uiteindelik is hy met vrede gelaat (v. 22). Maar bo alles, God het aan hom “in dieselfde nag” verskyn en weer bevestig dat Hy met hom sou wees en hom sou seën (v. 24).

Hierdie verhaal van Isak eindig op 'n hoogtepunt. Die Filistyne kom na Isak om 'n vredesverbond met hom te sluit (v. 28-31), want het hulle gesê: “Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is.” (v. 28). Dieselfde dag kom toe die dienaars van Isak en vertel hom van die put wat hulle gegrawe het, en sê vir hom: Ons het water gekry.” (v. 32).

Ons lees later weer in die Nuwe Testament, van Abraham, Isak en Jakob. In Hebreërs 11 en 12 word die geskiedenis van hierdie geloofsmanne vir ons in konteks geplaas. Soos Abraham, Isak en Jakob, is ons ook vreemdelinge en bywoners in 'n vreemde land, naamlik, hierdie aarde (Heb 11: 13) en verlang ons na 'n beter vaderland, dit is die hemelse (Heb 11:15), waar Hy vir ons 'n stad gereed gemaak het (Heb 11:16).

As ons die Here met ons lewens vertrou, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof (Heb 12:2) as ons nie mismoedig word as die Here ons teregwys nie (Heb 12:5), as ons ons rug keer op die konflikte en stryd van die wêreld en werklik vrede soek (Heb 12:14), sal ons uiteindelik kan rus by die Bron van die lewende water, by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond (Heb 12:24).

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css