Die Weg

 

Te midde van die storms van die lewe is Christus by jou

“Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.” - Klaagliedere 3:21-23.

Wanneer ons voor lastige probleme in ons lewens te staan kom, beland ons dikwels in die versoeking om te vra waarom God dit toegelaat het. Van daar af is dit net 'n klein treetjie na woede en bitterheid, en die gevoel dat God ons verlaat het of ons onregverdig straf. Maar dis nie waar nie. Ons moet leer om verby ons onmiddellike probleme na God self te kyk en te leer om Hom in elke situasie te vertrou.

In die tyd van Jeremia is sy volk deur die Babiloniërs ingeval en vernietig. Sy volk was skuldig aan baie dinge, maar die ergste was dat hulle hul rug op God gekeer het. Tog was dit vir Jeremia 'n skok toe hy sien hoe die volk en die pragtige hoofstad Jerusalem verwoes word. Maar te midde van sy pyn het hy geleer om na God op te kyk, want hy het geweet dat God sy mense steeds lief gehad het en naby hulle was. Jeremia het geskrywe: “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.”  (Klaagliedere 3:21-23).

God het jou lief, al verstaan jy nie die probleme waarmee jy te kampe het nie. En Hy het jou nie verlaat nie. Hoe weet jy dat Hy jou liefhet? Jy weet dit omdat Jesus Christus met sy bloed vir jou lewe betaal het en jou voorspraak is by die Vader.  As Hy jou nie liefgehad het nie, sou Christus nie gesterf het sodat jy God kan ken en die ewige lewe kan beërwe wanneer jy sterf nie. Maar Hy het jou lief, en die wonderlikste ding wat jy kan doen, is om in die geloof God se liefde in Jesus Christus te aanvaar.

Jy verstaan miskien nie waarom sekere dinge met jou gebeur nie, maar jy kan leer om elke dag tegemoet te gaan met die sekere wete dat Christus te midde van die storms van die lewe by jou is.

Uit: Antwoorde op ons Lewensvrae deur Billy Graham (Struik Christelike Boeke)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css