Die Weg

 

Vrede te midde van verdriet

Ek het alle moed verloor, U weet wat ek moes deurmaak. Op die pad waar ek loop, het hulle vir my 'n strik gestel. Ek soek hulp, maar niemand wil help nie, daar is vir my geen vlugkans nie en niemand gee vir my om nie. ” - Psalm  142:4-5.

Vir sommige Christene is die geloof 'n formule vir sukses. Vir hierdie Christene beteken geloof 'n vrywaring van depressie, siektes, armoede en ellende. Maw, geloof moet 'n kommervrye, suksesvolle en baie gelukkige aardse lewe tot gevolg hê.

As dit waar sou wees dat jy altyd net bly is, dat jy geen depressie ken nie, dat jy allerlei verslawings kan oorwin, dat jy jou liggaamlike en geestelike siektes kan oorwin, dan lei dit tot wanhoop by baie wat dit nie ondervind nie. Wie deur die wil van God geen genesing ontvang op gebed nie, het volgens seker evangeliste geen geloof nie. Wie dan depressief is en nie uit die put kan kom nie, ontbreek dit volgens hulle aan egte geloof. En so word mense in hul ellende en verdriet nog dieper in die put afgestoot. Want dit sou hulle aan egte geloof ontbreek en met daardie vonnis word hulle weggestuur. Dit kan lei tot wanhoop, tot doemgedagtes en tot angs vir God en dalk uiteindelik selfs tot selfmoord.

Maar hoe geheel anders praat God se Woord nie. Dit is lankmoedig en barmhartig. Kyk slegs maar na die boek Psalms. Dit is meer lewenseg as die oppervlakkige en opgesmukte siening van die welvaartsgodsdiens. Lees gerus maar Psalms 142.

In Romeine 8 word dit duidelik gestel dat die verlossing in Christus nie in ons huidige liggaam te sien is nie. Gelowiges kan net so siek word soos nie-gelowiges. Hulle kan in 'n ongeluk beland. Hulle kan 'n dodelike kwaal opdoen. Hulle kan psigies siek word, want dit behoort ook tot die chemiese balans van die liggaam. Liggaam en gees vorm 'n eenheid. Die lyding na liggaam en gees behoort tot die barensweë van die toekomstige bedeling. Dit is weë en veroorsaak pyn en verdriet. “Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.” (Romeine 8:22; 53-vertaling).

Maar dit is geboortepyne: dit wys op die nuwe lewe wat kom. En eers wanneer die nuwe lewe daar is, sal hierdie pyne vergete wees. Dit sê Jesus self: “'n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie ... Net so is julle ook nou bedroef, maar as Ek julle weer sien, sal julle harte vol blydskap wees, en niemand kan julle blydskap van julle af wegneem nie.” (Johannes 16:21-22).  Dawid se gebed “bevry my uit my gevangenis” (Psalm 142:8) word verhoor. Soms doen die Here dit in hierdie lewe, soos wat Dawid uit sy gevangenisskap bevry word. Maar nie altyd nie. Dit kan ook eers gebeur by ons sterwensuur, wanneer ons in 'n oomblik bevry word en die ewige salige lewe beërwe. Alles gebeur op God se tyd. En God se tyd is die allerbeste tyd. Dit gebeur deur Christus Jesus ons Here, wat eens deur God verlaat is sodat ons nooit deur Hom verlaat sou word nie. Daardeur kan ons steeds hier, in alle omstandighede, die vrede van God ervaar.

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” - Filippense 4:6-7.

Uit 'n preek van Dr WG de Vries (Zwolle, Nederland)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css