Die Weg

 

Wanneer dit lyk asof alles skeef loop

“Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak.” - Jesaja 58:11.

In die vroeë tye, as die skeepsbouer hout vir sy bote nodig gehad het, het hy dit nie in die valleie gaan soek waar die bome geil gegroei het van die baie vog nie, maar teen die berghange waar die bome deur sterk winde geteister is. Hy het geweet dat dáárdie bome die sterkste hout gehad het.

Dieselfde geld ook vir mense wat die storms van die lewe moet trotseer. Niemand van ons wil graag swaarkry en trauma in die lewe beleef nie, maar as ons dit moedig en in die geloof verdra, kan dit ons geestelik sterker maak. En dan wel só dat ons diensbaar kan wees in die koninkryk van God.

Die droë wintermaande in die binneland is gewoonlik brandseisoen. Groot dele veld word deur verwoestende brande vernietig. Maar hierdie brande is nie noodwendig nadelig vir die plantegroei nie. Ou, versmorende plantmateriaal word deur vuur weggebrand en baie van die sade wat deur die bome afgegooi is, ontkiem makliker met die eerste lentereën as die harde doppe deur die vuur geskroei is. En binne 'n kort tyd is die veld weer 'n lushof van jong groei. Hierdie hernuwing in die natuur is deel van God se skepping. Dieselfde geld ook vir die hernuwing van die menslike gees. Soms is dit nodig dat ons van al ons dooie dade gestroop moet word om 'n nuwe begin in Christus te maak. Paulus het dit op die pad na Damaskus ervaar (lees dit in Handelinge 9).

As jy nie kan verstaan waarom dit lyk of alles in jou lewe skeefloop nie, kan jy nog steeds hoop en vertrou op 'n beter toekoms. Miskien nie soos jy dit beplan het nie, maar eerder soos God dit vír jou beplan het. Want Hy bly getrou. Hy weet wat vir jou wag, en Hy vorm jou en lei jou op die weg wat Hy vir jou berei het. Uit 'n ramp kan Hy oorwinning voortbring. En dit kan heel moontlik ook vir jou 'n  geleentheid wees om Christus as jou Here en Verlosser te leer ken. Dán kan jy jou kruis blymoedig opneem en Hom volg.

- dw -
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css