Die Weg

 

Hou moed!

“In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” - Johannes 16:33.

Ons is geneig om moed te verwar met vreesloosheid of roekeloosheid. Robert Louis Stevenson het egter 'n baie raak ding gesê : “Moed is nie om sonder vrees te wees nie, maar om jou vrees te oorwin”. Moed is om te doen wat jy moet doen in die oortuiging dat, as jy jou plig doen, jy vir die res op God kan vertrou.

Moed is om die waarheid na te volg; om eerlik en regverdig in alle omstandighede te wees en om ferm "nee" te kan sê wanneer jy moet. Moed is om met jou probleme te worstel totdat jy oorwin en nie in selfbejammering daaronder te beswyk nie. Dit is om eerlik teenoor jouself te wees en om met selfdissipline jou liggaam, gees en verstand te beheers en nooit agter jou gebreke of tekortkominge te skuil nie. Moed is om jou Christelike getuienis in alle omstandighede vreesloos uit te leef.

Uit: 'n Woord vir elke dag (SA Kapelaansdiens)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css