Die Weg

 

Net by God vind ek rus!

“Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek.” - Psalm 62:6.

... stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons 'n toevlug.” - Psalm 62:9.

Die onvoorwaardelike aanvaarding van God se genade lei tot 'n rustige gemoed. Dan voel ek veilig en rustig in my verhouding met die Here. Ek vrees nie meer sy straf en vergelding nie. Ek voel veilig en ek het vrymoedigheid om alles met Hom te deel. As 'n mens nie veilig voel in 'n verhouding nie, probeer jy baie dinge geheim hou! As jy bang is vir verwerping en oordeel, deel jy nie maklik nie.

In Psalm 62 sê Dawid vir ons dat hy so veilig voel by die Here, dat hy sowaar sy hart by die Here kan uitstort (vers 9). As die lewe hom sleg behandel vlug hy as 't ware na die Here en kom praat sy hart by die Here uit. Hy maak oop, en deel al sy sorge, kwellinge, sonde en pyn.

Wanneer hy dit gedoen het, voel hy rustig! Dan kom sy hart tot rus. Die kwellinge en onrus bedaar, en sy hart voel weer gerus gestel en kalmer.

'n Vertrouensverhouding met die Here bring 'n groot rustigheid en kalmte in 'n mens se gemoed. Die belewenis van God se aanvaarding, bring soveel gerusstelling en geborgenheid in 'n mens se hart!

Dan kan baie dinge in jou !ewe ook maar skeefloop. Jy kan gevaar en beproewinge trotseer, ander mense kan jou verwerp en verstoot, mense kan jou aanval en bedreig, maar telkens, as jy na die Here vlug en jou hart by Hom uitstort, vind jy rus!

Weet dan verseker saam met die psalmdigter: “Net by God vind ek rus!

Uit: Leef in Weelde deur Ampie Barnard (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy - CUM)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css