Die Weg

 

Die Heilige Gees is die Waarborg van veel meer

Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.” - Efesiërs 1:14.

Die Heilige Gees is op Pinksterdag in Jerusalem uitgestort, soos 'n groot bak lewegewende water wat op een slag uitgegooi word. Oorvloed, lewe, maar ook die belofte van nog meer. Soms hunker die gelowiges terug na daardie tyd, met spreek in ander tale en wonderwerke, skouspelagtige groei in lidmaattalle. Dit is so asof God (of sy kerk) kwalik geneem word as dieselfde werkinge van die Gees nie sigbaar word nie. Dit moet ons egter nooit laat twyfel in die teenwoordigheid van die Heilige Gees nie!

Deur die pen van die apostel Paulus hoor ons dat die Heilige Gees nie net vir 'n kort tydjie aan die gelowiges gegee is nie, maar dat Hy 'n WAARBORG is totdat ons volkome verlossing aanbreek. “Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het ...” (Efesiërs 1:14).

Waarborg?
Met waarborg word hier bedoel dat ons nou reeds die eerste deel van God se volle heil en verlossing ontvang het. Soos met 'n deposito of eerste deel van 'n geskenk wat gegee word. Die belofte is dat ons die res beslis ook sal ontvang.

Wanneer kom die volheid?
“... wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos.” (Efesiërs 1:14). Op ander plekke in die Bybel word dit soos volg beskryf: “Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” (2 Petrus 3:13) “Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.” (2 Timoteus 4:8). “Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry.” (Romeine 8:23).

Ons kan dus elkeen, wat deur die werking van die Gees geloof in Christus ontvang het, in wie die vrug van Gees sigbaar word, wat 'n nuwe liefde vir God en sy naaste ondervind - maar wat nog bewus is van swakhede in ons kindskap van die hemelse Vader - seker wees daarvan, dat ons op die laaste dag die volle verlossing sal ontvang. Daarvan is die Heilige Gees, wat ons reeds ontvang het, ons waarborg.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css