Die Weg

 

Vreugde uit die woord van God

“Laat die lig van u teenwoordigheid oor u dienskneg skyn en leer my u voorskrifte” - Psalm 119:135 (2016 – vertaling).

In Psalm 119 beskryf die digter die wonderlike ondervinding wat hy met die woord van God gehad het! As 'n mens dit lees wil jy die persoon wat hier bid byna beny. Maar hoekom sal ons? Het God nie ook aan ons oorvloedige hulp gegee deur sy woord nie? En het hierdie woord nie ook ons eie pad verlig, ons uit die mag van die bose bevry, ons vrese besweer en vir ons nuwe moed vir lewe gegee nie?

Ja, beslis! Maar daar is ook tye wanneer dit vir ons voel asof ons geen lig sien nie, asof God Hom wegdraai van ons en die duisternis om ons toesak. Dan moet ons bid: “Laat die lig van u teenwoordigheid oor u dienskneg skyn”  óf soos dit in die 1953-vertaling gestel word: “Laat u aangesig skyn oor u kneg”.

Maar die woord van God bewys sy lewegewende en vernuwende krag altyd weer. Want ons kan verseker weet dat God in sy groot liefde altyd by ons is: “Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig” (v 130). Dit is dan wat ons ook kan deel in die vreugde van die psalmdigter. En ons kan ook saam met Dawid bely soos hy dit doen in Psalm 19:

“Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. Die onderwysing van die Here is betroubaar: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is. Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig. Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek. U dienaar laat hom daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.” - Psalm 19:8-12.

- dw -

(Met erkenning aan Neukirchener Kalender 2012)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css