Die Weg

 

Moenie vrees nie – jy't 'n Vader

“Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.” - Romeine 8:15-17.

Dit is belangrik dat ons sal verstaan wat God deur die Gees in ons wil doen. "Die Gees ... maak julle nie tot slawe nie ... nee ... die Gees ... maak julle tot kinders van God." God wil nie hê dat ons Hom met slaweharte moet dien nie, maar met kinderharte. Die slaaf dien sy eienaar omdat hy bang is vir hom. Die mens wat God uit vrees probeer dien, ken God nie werklik nie. Die God van liefde (1 Joh 4:8) wil nie slawe hê nie, maar kinders. Slaweharte en slawediens pas net by 'n mensgemaakte godsdiens waar jy jou verlossing deur goeie werke probeer verdien.

Die Gees maak ons kinders van God. Hoe doen die Gees dit? Hy help ons om God reg te leer ken. God wil in Jesus Christus vir ons 'n Vader wees. Die Gees help ons om te verstaan dat God in en deur Jesus Christus alles gedoen het wat nodig is. Ons hoef nie ons kindskap met slawediens te koop nie. Die genadige God skenk dit gratis aan ons. So is God!

As jy God só leer ken, maak die slawehart plek vir 'n kindergesindheid. Dan verstaan jy God en jou verhouding tot Hom reg. Dan skep die Gees in ons die kindergesindheid wat uitroep: "Abba", 'n Aramese woord wat "Pappa" beteken.

Die enigste manier om God reg te dien, is met 'n kinderhart en 'n kindergesindheid. Die kind dien en gehoorsaam die Vader omdat hy Hom liefhet. Die kindergesindheid maak al die verskil in ons godsdiens. Ek gaan nie kerk toe omdat ek moet nie, maar omdat ek wil. Ek gee nie my dankoffer omdat ek vir God bang is nie, maar omdat ek Hom liefhet. Ek is nie 'n getuie vir Christus omdat ek daartoe beveel is nie, maar omdat ek my Vader liefhet.

Die kind van God ken God reg. Hy weet dat God in Jesus Christus alles gedoen het. Hy weet dat hy nou 'n kind en 'n erfgenaam van God is. Hierdie kennis vervul sy hart elke dag met liefde en verwondering. Dit laat hom telkens uitroep: “Abba”.

En as dit so moet gebeur dat ons ter wille van ons geloof moet ly, het ons die troos dat ons eendag saam met Christus deel aan die hemelse heerlikheid sal hê.

Gebed: Ons Vader, baie dankie vir u liefde en genade in Jesus Christus. Baie dankie vir die Gees wat my help om U reg te leer ken. Amen.

Uit: Byderwets en byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css