Die Weg

 

Hulp in krisistye

“As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. ” - Jakobus 1: 5-6.

Alle mense kom een of ander tyd voor 'n krisis te staan. Onverwags en sonder vooraf waarskuwing, kan jy met situasies of omstandighede gekonfronteer word wat jou bestaande wêreld onderstebo keer. Jy weet jy moet iets daaraan doen, maar jy besef ook dat dinge nooit weer dieselfde sal wees nie, al doen jy ook wat. Dit is in sulke tye dat die angs jou hart omklem en jy voel dat jy selfs die beheer oor jou eie emosies gaan verloor.

Hoe groter die krisis, hoe meer verg dit van jou om beheer oor jou gedagtes en emosies te behou. Maar as jy eers beheer oor jouself verloor; as jy toelaat dat jou gedagtes en emosies op loop gaan, dan sal jy uiteraard ook beheer oor jou omstandighede verloor met moontlike rampspoedige gevolge. Die oomblik wanneer paniek toeslaan, het jy jou stryd dalk klaar verloor. Die beste is: gaan sit, probeer ontspan, haal stadig en diep asem en luister na wat Dawid vir jou sê: “Besef tog dat die Here wonders gedoen het vir dié wat aan Hom getrou is. Die Here hoor as ek na Hom roep. As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby!” (Ps 4: 4-5) en “Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan.” (Ps 62:6-7). “Wees net maar stil tot God, my siel, want van Hom is my verwagting!” (Ps 62:6 53-vertaling). Hoekom moet jy stil word? Sodat jy alle kanale oop kan hou om die volle krag van die gebed tot jou beskikking te hê. Want in 'n krisis moet jou gemeenskap met God, deur gebed, jou hoogste prioriteit wees. Gebed is nog altyd die asem van die siel genoem. En jy kan nie asemhaal as jy in paniek verkeer nie.

Moenie dat die krisissituasies en omstandighede jou volkome oorgawe en toewyding aan God oorskadu nie, hoe oorweldigend dit ook al mag wees. Jy kan dalk so oorweldig wees deur die gebeure dat jy niks anders kan uitkry as 'n paar onsamehangende woorde of gebede nie. “Wees maar net stil tot God”; laat die leiding aan God oor en wag en luister wat Hy aan jou wil sê. As die krisis dreig om jou te oorweldig, maak tyd om alleen met jou Vader te wees omdat Hy groter is in jou lewe as die dreigende krisis.

Gebed: Dankie Here dat ek kan weet dat U teenwoordigheid groter is as enige krisis.   

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css