Die Weg

 

Hoop! Bid! Wag!

“Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig – miskien is daar hoop – laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind. Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.” - Klaagliedere 3:18-33.

Die skrywer van hierdie hoofstuk is in groot benoudheid. In die eerste vers roep hy uit: "Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my geslaan met sy toorn." Hy glo dat die Here weier om na sy hulpkrete te luister (3:8). Boonop lag sy hele volk hom uit en sing hulle spotliedjies oor hom (3:14). As hy só oor al sy swaarkry dink, draai sy gedagtes vas - hy kan dit nie verstaan nie (3:20). Dit word so erg dat dit voel asof hy sy kontak met God verloor. Hy dryf ankerloos op die groot see van beproewing.

Later ontdek hy drie ankers wat nuwe vastigheid in sy lewe bring. Die eerste is hoop (3:21-24). Dit is vir hom baie meer as net 'n vae moontlikheid vir verbetering. Nee, dit is gegrond op die nuwe besef dat God hom tog liefhet, en op die wonderlike ervaring dat hy elke oggend krag kry om die nuwe dag tegemoet te gaan. Hierdie hoop is so vas dat hy weer kan uitroep: "Die Here is my lewe!" Sy tweede anker is gebed (3:25,29). Juis in die tyd van beproewing word die gebed vir hom so kosbaar. Daardeur worstel hy oor die wil van God. Daardeur kan hy hom "diep verootmoedig". Deur die kosbare anker vind hy weer die krag om aan te gaan. Derdens moes hy leer om te wag (3:26-28). Dit is altyd moeilik om te wag, maar soveel moeiliker in die tyd van benoudheid. Dan soek ons onmiddellike uitkoms, kits antwoorde, maar ons kry dit nie. Dit is dan dat ons leer om volkome op ons Here te vertrou. "Dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here ... Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly ... " Die gelowige moet kan wag op die regte tyd van God. Deur dit alles heen staan die vaste oortuiging dat dit nie God se wil is dat die mens in swaarkry moet leef nie (3:33).

Jesus moes ook die lydensbeker drink. Geen menslike swaarkry kan vergelyk word met dít wat Hy moes betaal nie. Hy het ook die ankers van hoop, gebed en wag geken, maar Hy het ook 'n nuwe versekering gebring. Hy het dit met sy eie lewe kom bewys dat God 'n einde aan ons swaarkry wil maak. Wie aan Hom behoort, het soveel meer om op te hoop, soveel meer vrymoedigheid tot gebed, en soveel meer rede om te wag. Ons het die vaste wete dat niks ons van sy liefde kan skei nie (Rom 8:38,39). So mag ons ook in lyding, met hoop, gebed en wag die liefdeband met God behou.

Gebed: Dankie, Here, dat ek aan U kan vashou wanneer swaarkry die hemel vir my so onbereikbaar ver laat voel. Amen.

Uit: Byderwets en byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css