Die Weg

 

Om nie te vrees nie

“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.” - Matteus 6:34.

“Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is.” - Psalm 57:2.

Kan jy nog onthou waarvoor jy in die verlede bang was? Dit is dalk moontlik dat dit nooit gebeur het nie en dat jy alreeds vergeet het wat dit was. Maar nou is jy weer bang vir wat môre met jou kan gebeur.

Het jy vergeet dat God die ewige is, en alreeds dáár is waarheen jy op pad is? Hy ken die pad waarop Hy jou lei. Hy sal jou voorsien van vrede en geestelike krag solank jy Hom net volg en op Hom vertrou. Hy begeer net wat goed is vir jou. Maar tog is daar oomblikke dat jy paniekbevange raak asof jy nie 'n liefdevolle Hemelse Vader het nie. Miskien voel dit vir jou asof jy dit self nie kan verhelp dat jy vrese het vir die toekoms nie. As jy egter in 'n liefdevolle verhouding tot God staan, dan hoef jy net jou gedagtes oor te plaas vanaf die onbekende toekoms na die realiteit van God. Laat jou gedagtes gaan oor die liefde van God en sy beloftes, en bely saam met Paulus: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom 8:38-39). Hoe sterker jou vertroue in God is, hoe meer sal jou vrese verdwyn sodat jy die toekoms met kalmte tegemoet sal kan gaan.

Geloof en vrees kan nie saam bestaan nie. Hoe sterker 'n mens se geloof, hoe minder die invloed van vrees op 'n mens se lewe. Watter een die oorhand in jou lewe het, hang af van die mate waarin jy vir God plek in jou lewe gee. As jou lewe volkome op God gebou is, sal jou geloof en vertroue jou vrees oorwin.

Dan kom die wysheid van Salomo te pas: “'n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop” (Spreuke 6:9).

-dw-

(Met erkenning aan Arnold J Walker: Through the year with faith)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css