Die Weg

 

God se doel met my lewe

“Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur.” - Genesis 45:5.

Dit is dikwels moeilik om te begryp hoe God 'n doel het met jou lewe wanneer jy harde en moeilike tye beleef. Dit is onwaarskynlik dat Josef die hand van God in sy lewe gesien het toe hy as slaaf verkoop, deur 'n gewetenlose vrou van sy vryheid beroof en deur sy tronk-vriende vergeet is. Tog, toe hy op sy lewe terugkyk, kon hy sien hoe die hand van die lewende God hom op sy pad gelei het.

As jy dit deur diep waters gaan en swaarkry en hartseer ervaar, onthou dat dit ingeweef is in God se patroon vir jou lewe. Wanneer alles vir jou donker lyk en jy geen toekoms kan sien nie, hou vas aan die geloof dat, ten spyte van alles, God steeds in beheer is omdat jy in Christus met Hom verbind is.

Moenie dat jou negatiewe gedagtes jou lewe in chaos dompel nie. As kind van God het jy deel aan die goddelike wil van God met hierdie wêreld. Erken dat die Here betekenis gee aan, en 'n doel het met alles: Josef in slawerny en gevangenisskap; Moses in sy moedeloosheid; Jeremia in sy klaagliedere, en selfs Christus aan die kruis. Dit toon vir ons die waarheid dat die lewe se donkerste oomblikke nog steeds wys op die groter doel van God met sy uitverkore volk.

Hoe hartseer en moeilik jou huidige situasie ook al mag wees, hou vas aan die versekering dat God steeds in beheer is en met jou op weg is na Sy doel vir jou lewe.

Gebed: Help my Here, deur U Gees, dat ek in die donkerste ure van my lewe steeds op U sal vertrou en glo dat U met my op pad is na U doel met my lewe.

(Met erkenning aan Arnold J Walker: Through the year with faith)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css