Die Weg

 

Ons enigste hoop

“Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons 'n toevlug.” - Psalm 63:6-9.

Wanneer 'n mens in 'n krisis is, bereik jy dikwels 'n punt waar jy voel dat jy nie meer verder kan nie. Daar is dan niks in die wêreld wat jou meer kan help nie, niks om op te hoop nie.

Die Psalmdigter gee egter vir ons 'n uitweg. Daar is tog hoop. God is ons hoop. By Hom kan ons rus kry vir ons gemoed. Hy is die Een wat vrede in ons gedagtes gee. Te midde van die ergste storm en grootste krisis bly Hy ons hoop en 'n stewige vesting. Die vrede van God, van die lewende God, gaan alle verstand, alle wanhoop, alle angs te bowe. Dit hou wag oor die wildste gedagtes in die donkerste nag. Ons hoef nie moed te verloor nie. Hy nooi ons om verder as ons huidige situasie te kyk. Ons hoop lê nie in die teenwoordige tyd nie. Ons hoop lê veel verder as dit, anderkant die dood. Dit lê by God.

Wanneer ons besef dat hierdie krisissituasie van ons nie groter is as God nie, as ons weet dat God saam met ons hierdeur gaan en in Jesus Christus ons reeds vooruitgegaan het, dan sal ons ook soos die Psalmdigter kan sê: " ... by God vind ek rus." Hy gee my die krag en die geloof om te midde van moeilike omstandighede op Hom te bly hoop. Hy bied Homself aan, ons moet Hom net vertrou. As die liggaam swak raak, die emosies suf, die gemoed vol en die gees moeg: rus by God.

Moenie dat jou krisissituasie vir jou groter raak as God nie. Vestig jou hoop op Hom. Neem God as jou toevlug en Hy sal jou rus gee.

Gebed: Here, U is ons hoop, want U het ons reeds vooruitgeloop. By U kom soek ons rus vir ons gemoed, want ons weet: u genade is vir ons genoeg. Amen.

Uit: Byderwets en byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css