Die Weg

 

Ek het bly glo, selfs al was ek platgeslaan

“Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my en toe ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens staat maak nie.”  - Psalm 116:10-11.

Ek het eenmaal die treffende stelling gelees: Wanneer ek by die eindpunt van al my vermoëns, kragte en insig kom, is ek by die beginpunt van my geloof. Iets daarvan bely die digter in Psalm 116: “Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my en toe ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens staat maak nie.”  Die digter was in uiterste nood, die dood het vir hom gewink. Tog het Hy aangehou bid om uitkoms. En die Here het sy gebed verhoor!

Om te bid, vra geloof. Anders is dit slegs ʼn paar woorde in die wind. Dan is jou “Amen” aan die einde van die gebed meer ʼn betekenislose punt, as ʼn uitroepteken van versekerdheid. Maar wat laat ons aanhou glo, selfs al word ons platgeslaan deur ons omstandighede?

Geloof staan op twee bene, kennis en vertroue.

KENNIS: Ons ken God in wie ons glo. Deur sy Woord en Gees maak Hy Hom op ons lewenspad aan ons bekend. Ons gebede word nie gerig tot ʼn vreemde, onbereikbare geestelike wese nie. Die digter ken Hom: “Die HERE is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons.” (Ps 116:5). In Jesus Christus leer ons die HERE ken as getroue, wat Hom hou aan sy beloftes. Sy grootste genade word aan ons bewys deurdat ons vergifnis van sonde kry. Hy is ons enigste Hoëpriester, wat deur sy offer aan die kruis ʼn nuwe gebedspad oopgemaak het. Daarom word ons aangemoedig: “En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid.” (Heb 10:21-22).

VERTROUE: Met volle geloofsekerheid! Omdat ons met ons hele hart op Hom vertrou dat die evangelie nie vir ander nie, maar ook vir my van krag is. Alles wat in die evangelie beloof is, geld vir my. Dat ek ter wille van Christus as kind van God aangeneem is, dat ek in Hom die ewige lewe ontvang het. Maar dan ook: Dat my hemelse Vader my gebede op grond van Jesus se voorspraak verhoor.

Ons kan dus bly glo, selfs al lyk alles (menslik) verlore!

Ons weet in Wie ons glo. Ons weet dat ons Hom ten volle kan vertrou. Hy is genadig, regverdig, almagtig en vol liefde. Ons grootste struikelblok vir volharding in die geloof, is onsself. Ons ken God, maar ons vertrou meer op onsself! Ons vertrou God, maar eintlik is ons hoop meer op mense gerig.

Die Here bemoedig ons deur Psalm 116 dat ons kan bly glo, selfs al is ons deur omstandighede ontwrig, al weet ons nie wat môre vir ons wag nie, al is ons kragte en planne totaal uitgeput.

Dr. Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css