Die Weg

 

Die tragiese gevolge van vrees

“Die HERE het oor julle gespreek, o oorblyfsel van Juda: Trek nie na Egipte nie! Weet verseker dat ek julle vandag waarsku. Want julle het gedwaal ten koste van julle lewe, dat júlle my na die HERE julle God gestuur het, met die woorde: Bid tot die HERE onse God vir ons; en net soos die HERE onse God sal sê, maak dit ons so bekend en ons sal dit doen. So het ek julle dit dan vandag bekend gemaak, en julle het nie geluister na die stem van die HERE julle God, naamlik na alles waarmee Hy my na julle gestuur het nie.” - Jeremia 42:19-21 (53-vertaling).

Dit was nadat Juda ingeneem en Jerusalem in die hand van Nebukadnesar, die koning van Babel geval het. 'n Klein groepie mense uit Mispa het oorgebly en hulle het besluit om uit vrees vir wat nog kon kom, na Egipte te vlug. Die profeet Jeremia wat in Juda agtergebly het, was ook onder hulle.

Hulle het reeds in hul hart besluit om na Egipte te vlug. Maar tog is daar twyfel by hulle. Daar is vrae in hulle gemoed: hoe sal dinge verder verloop? Sal ook hulle weggevoer word na Babel? Moet hulle bly of moet hulle voortgaan met hul vlugpoging? Dit is angsvolle vrae wat hulle hulself moes afvra. Daarom gaan hulle na Jeremia om raad by hom te kry. Hy was immers die profeet van God. Jeremia bid tot die Here en ontvang na tien dae 'n duidelike antwoord van die Here. Hulle moet bly. God sou hulle beskerm. Maar nee, die antwoord wat hulle deur Jeremia ontvang het, was nie wat hulle wou hoor nie. Waarom het hulle dan in die eerste plek God se raad gevra? Hulle het gehoop dat hulle bevestiging van God sou kry vir wat hulle wou doen. Hul vrees vir die Babiloniërs was uiteindelik groter as hulle vertroue op God.

Jeremia se woorde aan die mense is hard: “wanneer julle iets van God vra, dan moet julle Sy antwoord ernstig opneem”. En hy waarsku hulle: “julle handel teen die wil van God en as julle teen God se wil na Egipte vlug, dan sal dít waarvoor julle wegvlug, julle dáár tref”. Sou hulle egter in Juda bly, sou God hulle beskut, want Nebukadnesar, die koning van Babel, was immers God se werktuig om die volke te straf. God is altyd in beheer en Hy beskerm dié wat op Hom vertrou.

Wie na die wil van God vra, Hom gehoorsaam en op Hom vertrou, hoef geen angs te hê nie. Dit is so jammer dat hul vrees vir mense die oorhand oor hulle gekry en hulle nie na God geluister het nie. Juis dit wat hulle gevrees het en van wou wegvlug het oor hulle gekom in die vreemde land . Want die uiteinde hiervan sien ons in Jeremia 44:28 (83-vertaling): “Dié wat aan die oorlog ontkom en uit Egipte na Juda toe terugkom, sal min wees. Almal wat van Juda oor is en in Egipte kom woon het, sal tot die besef kom wie se woord bly staan, Myne of hulle s'n”.

Moenie dat vrees jou die regte pad laat byster raak nie.

'Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.' (Rom 8:15).

- dw -

--------------------------------------------

Neem asb kennis: Ek sal tot 16 Maart uitstedig wees. As my tyd dit toelaat sal ek wel probeer om twee of drie keer per week 'n boodskap te plaas en uit te stuur, afhangende van die beskikbaarheid van 'n selfoonsein – Lukas.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css