Die Weg

 

Op wie is jou oë gerig?

“Soos die oë van 'n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van 'n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die HERE ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm. .” - Psalm 123:2 53-vertaling.

Psalm 123 is 'n gebed. En ons sien ook die erns waarmee die persoon bid. Hy glo en vertrou dat God aan hom en aan almal wat saam met hom bid, Sy genade en Sy ontferming sal skenk. Hy wéét dat hy met sy hele wese aan God behoort net soos die slaaf aan sy eienaar en die slavin aan haar eienares. Dit is God wat die verloop en die uitkoms van sy lewe bepaal. Hy het sy hele lewe aan God te danke.

God het aan sy volk gedink en hulle deur middel van Moses uit die knegskap van Egipte gelei. Ook wanneer die volk telkens weer teen God gemurmureer het, het Hy nogtans getrou gebly en Sy genade nie van hulle weerhou nie. Sy liefde gaan so ver, dat Hy sy Seun in die wêreld gestuur het om ons uit die slawerny van die sonde te verlos en ons vrye mense te maak.

Op wie rig ons ons oë? Is dit op God, of is dit op mense? Verwag ons ten minste nog dat Hy Hom oor ons gaan ontferm? Die mens het 'n groot verlange na vryheid. Maar vryheid sonder God is geen vryheid nie. As ons nie die hand van God in ons lewe wil raaksien nie, as ons Hom nie ag nie en nie eer nie, dan word ons baie gou slawe van ons eie selfgemaakte gode.

M Theresia Haupt, Müster; Neukirchener Kalender (vry vertaal)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css