Die Weg

 

Vreugde is moontlik al is die tye swaar!

“Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings” - 1 Petrus 1:6.

Dit klink amper te goed om te glo! Verheug jou as daar goed is wat jou bedroef maak! Met “allerhande beproewings” word bedoel: alles wat 'n mens se lewe negatief kan beïnvloed, soos siekte, droogtes, onrus, vyande, vervolging, ensovoorts.

Hierdie bemoediging om jou te verheug is egter nie sommer so 'n oppervlakkige wêreldse boodskappie “Don’t worry, be happy” nie. Daar staan verheug julle HIEROOR. Daar is dus goeie gronde vir die blydskap. Dit word in die 1 Petrus 1:3-6 gegee: “In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop (v4) op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. (v5) En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.”

Drie dinge gee rede vir vreugde:
=> nuwe lewe
=> lewende hoop op 'n erfenis
=> sekerheid van bewaring.

Alles wat ware vreugde gee, ook te midde van beproewings, begin by Jesus se oorwinning van die dood. Sy opstanding uit die dood, gee ons ook opstandingskrag. Dieselfde Gees wat Hom opgewek het, is ook aan ons gegee (Rom 8:11). Die NUWE LEWE word geaktiveer deur die weergeboorte, wat groei uit die onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God (1 Pet 1:23).

Hierdie nuwe lewe gee 'n LEWENDE HOOP op 'n onvernietigbare erfenis, die ewige heerlikheid. Die erfenis word vir ons bewaar, dit sal nie gesteel word of wegraak nie. God hou dit vir elkeen wat glo gereed.

Te midde van allerlei beproewing, wat ons ons hoop wil laat verloor, is ons seker dat God ons sal BEWAAR totdat ons daardie beloofde erfenis in besit neem. Die swaarkry bring dalk vir 'n kort tydjie hartseer (ons is mos net mense), maar dit dien ook die goeie doel om ons geloof te toets en te versterk.

Waarom kan ons ons verheug, ook wanneer ons beproef word?
Omdat ons lewe uit die krag van Christus. Omdat God vir ons 'n lewende hoop gereed hou. Omdat Hy ons op pad na die heerlikheid bewaar, sodat ons nie verlore gaan nie.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css