Die Weg

 

Hou goeie moed! Ons het 'n regverdige Regter.

“Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was 'n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog.” - Openbaring 19:11.

Die Ruiter op die wit perd waarvan in Openbaring 19 genoem word, is Christus. Hy word die Getroue en Betroubare genoem, en let ook op sy Naam in vers 13: “Die Woord van God”. Dit bring ons terug by Johannes 1: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.” (Joh 1:1-4).

In Openbaring 19 word daar ook van 'n groot feesmaal gepraat: “die bruilof van die Lam”. Dit is die vereniging van Christus (die Bruidegom) met sy Kerk (die gelowiges). Die Kerk van Christus word telkens in die Bybel as die bruid van Christus aangedui. “Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek. Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.”

Maar voordat die bruilofsmaal van die Lam plaasvind, sal daar eers 'n ander maaltyd wees. Ons lees dit in Openbaring 19 vers 17-21: die maaltyd van die voëls. Dit is simbolies van die vernietiging van almal wat deur Satan verlei is om agter hom aan te loop. (Sien ook: Jeremia 46:10, Jesaja 56:9, Esegiël 39:17).

Dit kan gebeur dat jy moedeloos word omdat die goddelose eenvoudig van krag tot krag gaan in jou lewe en in die wêreld rondom jou. Openbaring 19 sê aan die gelowiges dat hulle goeie moed moet hou, want die Here Jesus Christus gaan die goddelose mense met die ewige dood straf.

Daarom, vir jou as kind van die Here: hou goeie moed, die Here sal die ongelowiges oordeel wat uitdagend teenoor Hom gestaan het en wat die gelowiges swaar verdruk het.

Saamgevat uit 'n preek van ds Paul van den Berg
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css