Die Weg

 

Die Here is my herder

Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie.” - Psalm 23:1 (53-vertaling).

Dawid het waarskynlik aan sy eie kudde gedink toe hy hierdie psalm geskrywe het. Hoe goed het hy nie sy eie skape geken nie? Daar is dié een met die lelike merkteken, dié ander wat hy uit die leeu se bek kon red. Hierdie skaap moet hy goed onder oë hou omdat hy die neiging het om van die res weg te dwaal. Hoeveel nagte moes hy in sy soektogte nie op die berge deurbring nie? En dan sê Dawid: “Ek het ook 'n Herder. Één wat my ken en my liefhet, wat my afdwalinge vergewe .... Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.”

Ons kan verseker wees dat Hy vir ons rus en vrede sal gee. “Hy laat my neerlê in groen weivelde." Wanneer die skape se honger en dors gestil is, gaan hulle gewoonlik lê omdat hulle tevrede en veilig voel, danksy die teenwoordigheid van die herder. Hoe moeg en gedaan ons nou ook al mag wees, hier is 'n belofte dat Hy op Sy tyd uitkoms en rus sal skenk.

Ons kan ook verseker wees dat Hy ons langs die regte weë sal lei: “Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil." Hy lei ons na die onbekende môre. Hy lei ons langs 'n nuwe pad waarop ons gister en eergister nog nie geloop het nie. Ons kan egter getroos daarop gaan omdat ons weet dat die weg nie onbekend of nuut vir Hom is nie. En Hy belowe dat Hy ons sal lei. Hoe het ons Sy leiding nie nodig nie! Ons kom maar gedurig by kruispaaie in die lewe te staan. Dan is ons verbluf en onseker, en weet nie watter pad om te kies nie. Jy is dalk op hierdie oomblik in 'n posisie waar jy 'n belangrike beslissing moet neem en jy twyfel. Hy sê: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” (Ps 32:8). Ja, ons kan elke dag van ons bestaan verseker wees van Sy leiding.

Met die Here as ons herder sal dit ons nie ontbreek aan troos in droefheid nie. “Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie.” Hy lei ons nie net na groen weivelde nie, maar ook deur die donker klowe. Al gaan die trein die tonnel in, ons weet tog dat dit anderkant in die sonlig sal uitkom. So lei die goeie Herder ons deur elke beproewing heen. Hy sal ons nooit in die steek laat nie. Waarom sal ons dan nog vrees vir wat voorlê ? Hy is met ons!

Prof HDA du Toit: Na die eis van elke dag
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css