Die Weg

 

Vandag

“Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” - Hebreërs 4:7 (53-vertaling).

As ek maar net 'n paar jaar ouer was! As ek eers 16 is! Ek wens ek was al 18! As ek 21 is! As ek klaar gestudeer het! As ek eers getroud is! As ek my eie huis het! As die kinders groot is! As ek afgetree is! So wens ons die tyd om. En dan: as ek tog net weer jonk kon wees! Dan sou ek elke dag voluit geleef het, want om die een of ander rede het ek die lewe in 'n mate misgeloop, en dit is verby!

Ons lewe in die droom dat daar altyd iets beter, iets meer opwindends, iets meer rooskleurig agter die horison op ons wag. Wat dalk nooit opdaag nie! Daardeur sien ons nie die seëninge raak wat elke dag oor ons pad kom nie. En baie keer is dit in die klein dingetjies! Die werklikheid van die lewe lê in elke uur van elke dag. En vir die meeste van ons kom hierdie besef altyd te laat!

Maar soms is dit nie altyd 'n droom oor 'n beter toekoms nie, maar wel 'n vrees vir die toekoms! Die oorsaak van baie van ons angs en bekommernisse, is dat ons die skoonheid van vandag onopgemerk by ons laat verbygaan terwyl ons ons besig hou met die probleme wat moontlik, dalk waarskynlik nooit, in die toekoms op ons wag.

Wat leer die Woord van God vir ons? Jesus leer ons bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”. Verder sê Hy: “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.

Daar is egter ook 'n ander sy hieraan, en dit is om vandag te doen wat vandag gedoen moet word. Daar is 'n Latynse spreekwoord wat sê: Carpe diem - gryp die dag en maak die beste daarvan. Die skrywer en filosoof, John Ruskin (1819-900) het 'n klip op sy lessenaar gehad met die inskripsie daarop: “Vandag”. Ons is so geneig om dinge wat vir ons moeilik is, uit te stel: daardie onaangename brief wat nog nie beantwoord is nie; die verhoudings wat herstel moet word. Maar daar is sekere dinge wat ons nie kan uitstel nie, omdat môre dalk te laat kan wees. Die Skrif vermaan ons hieromtrent: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie” en “Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister!” (Ps 95:7; 53-vertaling).

- dw-

Met erkenning aan Prof HDA du Toit: Na die eis van elke dag
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css