Die Weg

 

'n Lig vir my pad

Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is; die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie...... Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.  Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie. Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit. Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.” - Spreuke 4:18-27.

Hier word twee weë geskilder: dit is die pad van die lig en die pad van die duisternis. Die pad van die lig is dié van die wysheid. Soos die môreglans kom om die duisternis te verdryf, so sal die wysheid die goddeloosheid oorwin. Dié mens wat in ongeloof en duisternis wandel, het 'n gedurige gevoel van onheil wat hom bedreig, van iets wat met hom kan gebeur.

Omdat ons kinders van God is, wandel ons in die lig wat Hy aan ons gee, in kennis van Hom. Daarom moet ons Sy Woord lees en oordink sodat die weg wat ons moet volg vir ons duidelik kan word. Soos dit vanaf dagbreek altyd helderder lig word, so moet die kennis van Sy Woord ook vir ons toeneem om ons meer en meer insig te kan gee.

Maar dan vermaan die Spreuke-boek ons ook dat ons versigtig moet wees wat in ons harte omgaan. As die hart reg ingestel is, dan is die hele lewe reg, want die hart gee gewoonlik die leiding in ons besluite. Dit wat ons met die hart begeer, gee koers aan ons gedagtes en ons werke. Mag die begeertes van ons hart tog altyd in lyn wees met die wil van God. Maar al is die oorsprong van die lewe in die hart, moet daar ook gelet word op die maniere waarop die gedagtes van die hart tot uiting kom. Daarom word hier gepraat van die mond, oog en voet.

Die mond moet altyd die waarheid praat. Die Satan is die vader van die leuen. As ons dus leuens vertel, gee ons plek aan hom in ons harte en die een klein leuen lei gewoonlik tot die volgende groter leuen.

Ons ken die uitdrukking: “iemand jou nie in die oë kan kyk nie.' Dit veronderstel dat só 'n persoon vals is of oneerlike bedoelinge het. Só moet die kind van God nie wees nie. Só 'n persoon se voete het die verkeerde rigting gekies, weg van die lig af. “Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.” sê Spreuke.  Vestig jou oë altyd op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof. (Heb 12:2). Die voete moet dan volg waar die hart en die oë lei. So sal die kind van God bewaar word van struikeling. Hoe dankbaar kan ons wees dat alles wat in ons lewe gebeur en die weg wat ons volg, nie net van ons afhang nie, maar dat die Heilige Gees ons ook lei. Volg net!

Uit: 'n Lig vir my pad deur Nig Sans.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css