Die Weg

 

Wie Anders?

Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee” - Johannes 6:68.

Dit is een van die aangrypendste antwoorde in die hele Bybel, eintlik 'n klein belydenis: “Here, na wie toe (anders) sal ons gaan? Waarheen en vir wat? Ons is op U aangewys, want U praat die taal van die ewige lewe.” Dus: U ken die koers. U weet waaroor dit gaan. Wie anders weet?

Simon Petrus het besef die mens het eintlik net een keuse: óf ons kies Christus met al die probleme van verstaan en nie verstaan nie, met al die menslike geloof en tye van ongeloof, die volle “waagstuk” met God; óf ons kies die aaklige, gapende afgrond van niks, die donkerte van die totale chaos, die verwarring van die volle besef van sinloosheid en nogmaals sinloosheid met geen doel, geen plan en geen betekenis hoegenaamd nie.

Die volgelinge wat Jesus verlaat het, het na hulle huise teruggekeer en gesê hulle het verwagtings gehad, maar nou gaan hulle liewer voort met hul daaglikse bestaan na nêrens. Die klompie dissipels wat gebly het, het seker aangevoel dat hulle die "moeilike" keuse gemaak het, dat hul Leier vreemde dinge doen en nog vreemder dinge sê. Maar Petrus-hulle het ook aangevoel dat die opsie van die niks bloot 'n opsie vir die chaos is. En dat die opsie vir Christus geen maklike opsie is nie, maar noodsaaklik vir mense wat besef dat daar meer aan die lewe is as hier en nou.

Hierdie besef is wanneer die geestelike oë oopgaan. Hierdie keuse is die begin van die nuwe geboorte, soos Jesus vir Nikodemus wou laat verstaan. En hierdie keuse lei onvermydelik tot die stelling: “ ... ons weet dat U die Heilige van God is” (v. 69).

Hierna sou die dissipels groot dinge saam met Jesus deurmaak, en ook verskriklike dinge, want die verraaier was ook saam met hulle (vgl. v. 71). Maar hierna was hulle Christus S'n. En Christus hulle s'n. En in sy lig kon hulle deur elke chaos of probleem worstel. Soos ons ook kan.

Uit: “In die Teenwoordigheid van God” deur Izak de Villiers - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css