Die Weg

 

God is in beheer

Die HERE is koning! Laat die nasies bewe! Hy sit op die gerubs! Laat die hele aarde bewe! Groot is die HERE in Sion, hoog verhewe bokant al die volke. - Psalm 99:1-2.

Op die oomblik bewe die nasies: oor die kwessie van Iran wat kernwapens bou, oor Noord-Korea wat missiele en kernbomme toets, oor die Midde-Ooste wat in 'n warboel is, oor moontlike terreur in groot Westerse stede, oor seerowers (ja, ná al die jare weer!) aan die Ooskus van Afrika. Maar in al die gebewe en voorspellings van onheil en ekonomiese agteruitgang, hoor 'n mens niemand bewe voor God nie. Geen nasie sê ons moet God weer soek nie. Geen nasie sê ons moet terugkeer tot die Here nie. Inteendeel: in die naam van politieke korrektheid mag godsdiens nie meer in die skole geleer word nie.

Maar toe 'n aardbewing onlangs Griekeland getref het, het honderde mense na 'n klein kerkie gevlug! Hoekom? Hoekom nie na die plaaslike politikus nie? Omdat die mens weet dat God in beheer is, maar dit nie wil erken nie. Eers wanneer die ramp kom, bewe 'n nasie en soek die mense God. Is ons in ons gewone lewe nie ook maar dikwels so nie?

Uit: “Onder ewige vlerke” deur Izak de Villiers. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css