Die Weg

 

'n Heerlike Seder

So sê die Here HERE: Dan sal Ek self van die verhewe top van die seder ‘n steggie neem en dit insit—van die boonste van sy lootjies sal Ek ‘n teer puntjie afpluk en self dit plant op ‘n hoë en verhewe berg. Op die hoë berg van Israel sal Ek dit plant, en dit sal takke voortbring en vrugte dra en ‘n heerlike seder word, sodat al die voëls van allerhande vere daaronder kan woon; in die skaduwee van sy takke sal hulle woon. En al die bome van die veld sal weet dat Ek, die HERE, die hoë boom verneder, die nederige boom verhoog het; die groen boom laat verdroog en die droë boom laat bloei het. Ek, die HERE, het dit gespreek en gedoen.” - Eségiël 17:22-24 (53-vertaling).

In die vorige boodskap het ons gesien hoe die Here vir Juda verwyt het dat hulle nie vrugte tot Sy eer gedra het nie. Die straf sou dus nie uitbly nie. Maar nogtans bly die Here God getrou aan Sy beloftes tot in ewigheid. Hy is die Een wat nooit troubreuk pleeg nie. Hy doen Sy beloftes gestand. Eségiël 16:60: “Ewenwel sal Ek dink aan my verbond met jou in die dae van jou jeug, en Ek sal met jou 'n ewige verbond oprig".

Die ballinge het seker dikwels gewonder oor die toekoms van hulle volk. Aan Dawid is immers 'n belofte gegee van ewige heerskappy deur die Messias. As die volk dan so gestraf sou word, Jerusalem en die tempel verwoes word, en Sedekia as die laaste koning weggevoer word - wat het die toekoms ingehou? Dan kom die wonderlike belofte in die verse wat ons gelees het. God sou Self sorg. Hoe het Hy dit gedoen? Die Here het Serubbabel uit die ballingskap gebring en Jerusalem laat herbou. Later het ook Esra en Nehemia gekom en saam met hulle ook dié uit die koningsgeslag van Dawid. Die begin was onaansienlik soos “'n teer puntjie”, maar dit sou geweldig ontwikkel tot 'n “heerlike seder” sodat al die voëls (dit is al die nasies) daardeur oorskadu sou word. Al die bome van die veld (al die aardbewoners) sou weet dat hierdie koninkryk, die koninkryk van die hemele, deur God tot stand gebring is.

Maria sê in haar lofsang: “Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog” (Luk 1:52). God sou die droë boom (Israel en Juda in ballingskap) weer laat bloei en laat vrugte dra. Daar sou 'n takkie uitspruit uit die stomp van Isai en 'n loot uit sy wortels sou vrugte dra.

Eers moes die boom gestroop word. Die konings van Juda het baie planne gemaak, verbonde aangegaan, maar hulle moes eers aan die einde van hulself kom. Eers toe die volk in ballingskap erken het dat hulle hulpeloos is - toe het God ingegryp en hulle herstel.

As ons begeer om die koninkryk van God in ons harte en ons lewens te sien kom, moet ons ook aan die einde van onsself kom. Ons eie planne en pogings sal ons nie baat nie. Laat ons ons in gehoorsaamheid net oorgee aan Hom. Hy sal ons dit laat geluk.

GEBED: Troue Verbondsgod, dankie dat U ook vir My in U verbond opgeneem het.

Uit: ‘n Lig vir my pad deur Nig Sans. - Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css