Die Weg

 

Christus kom ...... verseker!

“Maar die dag van die Here sal so onverwags soos 'n dief kom. En op dié dag sal die hemel met 'n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.” - 2 Petrus 3:10.

'n Mens leef op pad êrens heen, na 'n toekoms toe, na 'n lewe hierna. Indien 'n mens dit nie glo nie, het jy niks om voor te leef nie.

Die spotters in 2 Petrus 3 verse 3-5 openbaar deur hulle optrede hulle ongeloof. Die ongeloof lei daartoe dat dit nie vir hulle saak maak wat kom nie. Hulle dink nie eers daaraan nie.

In 2 Petrus 3 bewys die apostel Petrus dat die wederkoms vas en seker is. Die mensegeskiedenis en wêreldgeskiedenis beweeg na 'n punt toe: na die tweede koms van Christus toe. Hy kom om te oordeel, die lewendes en die dooies. Daarvan getuig die geskiedenis (2 Pet 3:5-7), die Skrif (2 Pet 3:7) God self (2 Pet 3:9), en die beloftes van Christus (2 Pet 3:10).

My lewe, tot en met die Wederkoms van Christus, moet op 'n manier ingeklee wees, veral as ek as 'n lewende geoordeel wil word! Dit impliseer geloof, 'n heilige lewe, liefde tot God en diens aan my naaste (2 Pet 3:11-14).

Uit: 'n Woord vir elke dag  (SA Kapelaansdiens).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css