Die Weg

 

Groot wonders

Ons en ons voorouers het gesondig. Ons het oortree en is skuldig. In Egipte het ons voorouers die HERE se wonders gering geag, en sy dade van goedheid vergeet. By die Rietsee het hulle teen Hom in opstand gekom. - Psalm 106:6-7.

Hoe dikwels doen ons nie wat die volk van God gedoen het nie: om die wonders van God gering te ag of te minag. In die moderne tyd word dit byna mode om God en sy bestaan te bespot en te bevraagteken. Mense wat van wonders praat, word uitgelag as ietwat van balans af. God word soms bestempel as 'n mens-uitgedinkte skepsel. En sy werke word verklaar deur lang redenasies waaroor die bose seker juig.

'n Mens sou dink dat wanneer die see vir jou oopgegaan het, water uit die rots gevloei het, manna uit die hemel neergedaal het. en jy alles gesien het, jy dit nooit sou vergeet nie. Maar die Israeliete het die wonders "gering geag".

God doen in ons lewens ook groot wonders. Dink na oor hoe Hy jou in die verlede behoed het en gelei het. Dink na oor hoe jy geroep het en Hy gehelp het. Dink na oor alles wat al in die gevaarlike lewe met jou kon gebeur het, gewoon op straat. En weet dan dat God se wonders groot is ook in jou lewe. En prys Hom daarvoor.

Uit: “Onder ewige vlerke” deur Izak de Villiers. Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css