Die Weg

 

Genadige onsekerheid

“Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra” - Klaagliedere 3:24-25.

Ons is van nature geneig om vooruit te wil weet wat môre met ons gaan gebeur. Daarom hou ons nie van onsekerheid nie. Ons wil graag vooruit beplan om 'n spesifieke doel in die lewe te bereik. Maar dit is ongelukkig nie hoe dit altyd met die lewe gesteld is nie. In die lewe van vandag kan ons net seker wees van ons eie onsekerheid.

Ons kán egter praat van genadige onsekerheid. In genadige onsekerheid is daar slegs één sekerheid. Dit is om seker te wees van God. Alhoewel ons onseker is oor die volgende tree wat ons moet gee, is daar tog 'n Vastigheid waarop ons kan vertrou. Sodra ons wegkyk van onsself en ons aandag op God vestig, is ons lewe vol verrassings. Dan doen ons eenvoudig wat ons hand vind om te doen omdat Hy dit op ons pad bring.

Dawid het gesê: “Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.” (Ps 131:1-2). As kind was ons nooit onseker oor ons ouers nie, en ons is nou ook nie onseker oor ons hemelse Vader nie. Ons is net onseker oor die volgende tree wat Hy vir ons sal laat gee, maar omdat ons seker is van Hom, kan ons die onsekere tree met sekerheid gee omdat Hy met ons is.

Wanneer ons in die regte verhouding tot God staan, is ons lewe gevul met spontane, vreugdevolle onsekerheid en afwagting. “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra” ( Klaagl 3:24-25). Laat alles aan Hom oor en die manier waarop Hy ons sal lei, sal 'n heerlike en genadige onsekerheid wees. Bly getrou en “doen dan wat jou hand vind om te doen, want God is met jou” (1 Sam 10:7).

-dw-

(Met erkenning aan Oswald Chambers)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css