Die Weg

 

Die laaste sprong met God

.... met my God spring ek oor ‘n muur.” - 2 Samuel 22:30b (53-vertaling).

Dit is Dawid wat hier praat. Die man met die onwankelbare Godsvertroue. Die man wat in die Naam van die HERE voor Goliat gaan staan het (1 Sam 17:45). Die man wat by die ruïnes van Siklag sy  krag van die HERE sy God ontvang het (1 Sam 30). Die man wat in al sy avonture en veldslae, nooit sy geloof in God se hulp verloor het nie. Die man, wat met God oor die hoogste mure spring, wat met sy God 'n leërbende stormloop (2 Sam 22:30). Dawid wat in die krag van die Here sy tienduisende verslaan het (1 Sam 18:7).

Die geloofsuitinge van Dawid het die gelowiges van alle tye bekoor en geboei. (Gaan lees gerus 2 Samuel 22 of Psalm 18). Hy is nie verniet “die man na God se hart” genoem nie (Hand 13:22).

'n Mens kom soms in jou lewe en moontlik deur jou eie toedoen, voor mure te staan. Om dit sterker te stel: met jou rug teen die muur. Dan is daar geen uitweg meer nie. Jy is vasgekeer. Al wat vir jou oorbly, die lááste uitweg, is die geloof. Die vaste vertroue in God. Maar dan gebeur daar wondere: deur die geloof stort die mure van Jericho ineen. En Dawid waag die sprong, en hy kom daaroor, want God was by hom.

Die werklike krag van die geloof kan 'n mens nie peil nie, en dit bly tot die einde toe.

'n Mens se grootste muur kom aan die einde van jou lewe. Die muur van die dood. Maar as jy geloof het wéét jy dat agter dáárdie muur die ewige lewe vir jou wag. En met God kan jy oor daardie muur spring, om Jesus wil.

Uit: Avondsegen; Ds W Schouten en ds S de Vries
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css