Die Weg

 

'n Nuwe hart sonder angs (4)

(Lees saam met die vorige)

“Nogtans sal ek altyd by U bly” - Psalm 73:23.

Hiermee kom ons nou aan die einde. Al wat nog oorbly is om te vra hoe om dit prakties toe te pas. Ons kyk na enkele uitvoerbare reëls:

1. Ons moenie probeer om ons sorge kunsmatig te onderdruk nie. Ons kan tydelik van ons sorge vergeet deur na filmvertonings te kyk, vermaaklikheidsplekke te besoek of ons aan drank oor te gee. Ongelukkig is die sorge dan baie gou weer terug en dalk nog in 'n erger mate. Nee, ons MOET ons sorge na Hom bring wat al ons skuld en al ons leed en dus ook al ons sorge wil dra en deel. Ons moenie ons sorge aflei nie, maar dit heenlei na Hom. Jesus het nie gesê nie: “Kyk na die volstruis, hoe hy sy kop in die woestynsand begrawe om van die sorge vir gevaar weg te kom nie”. Hy het wel gesê: “Kyk na die voëls onder die hemel, hou julle oë oop, kyk na bo en na die wêreld waarin God se tekens van sy genade en versorging sigbaar is.”

2. Gee vryelik uiting aan jou sorge en moet dit nie onderdruk nie. Hierdie tweede reël hang saam met die eerste. Moenie eers vra of dié sorge dalk van die duiwel kom, uit ongeloof stam óf te gering is om daarmee na die hemelse Vader te gaan nie. Hoe sou Hy, wat ons ons skuld vergewe, nie goedig oor ons dwaashede glimlag nie? Hoe sou Hy ons klein mensies dan nie liefhê net soos ons is nie? Hoe sou Hy ons nie met alles wat ons is, met ons manlike daadkrag, ons kinderangs, ons heldhaftigheid en ons klein en dikwels domme besorgdheid, in sy eindelose ontferming toevou nie? Hierdie ontferming wat Hom daartoe gelei het om die heerlikheid van die hemel te verlaat en na ons te kom! Deur Christus kan ons met God praat as geliefde kinders van ons hemelse Vader.

3. Ons moenie toelaat dat die sorge besit van ons hart neem nie. Prakties beteken dit dat ons onmiddellik as die sorge te voorskyn kom, dit in gebed moet omsit. Sorge is plofbaar en as ons dit te lank vashou, ruk dit ons uitmekaar. Kyk maar na die sorgbelynde, gekwelde gesigte op straat van hulle wat die sorge te lank vir hulself hou, in plaas daarvan om dit op Hom te werp wat in sy grenselose goedheid beloof het om vir ons te sorg, en teen wie se hart daardie gevaarlike goed niks kan uitrig nie.

Wanneer ons die sorge egter in gebede verander, kom daar 'n “verandering”. Ons kom veel nader aan die hart van die Vader as wanneer ons geen sorge gehad het nie. Ons ervaar die troos van God soos 'n kind wat deur sy moeder getroos word wanneer hy angs en vrees vir die donker het. En hierdie kind leef in die sterkste manne. As ons dit egter nooit waag om  “Abba, liewe Vader” te roep nie, ervaar ons nooit dat die kind in ons om verlossing roep nie. Wie onmiddellik en daagliks alle sorge in 'n gebed omsit, kom nog steeds te staan voor die raaisels van die lewe, maar hierdie raaisels kwel hom nie meer nie, omdat hy biddend kontak met die Vaderlike hart behou. Dan kan ons deur die geopenbaarde liefde van Jesus Christus vol troos en saligheid sê:  “Nogtans sal ek altyd by U bly." Dit is 'n uiting van saligheid en vreugde omdat die donker toekoms van die lewe my niks kan aandoen nie; dat dit my nie in die war kan bring nie; en dat ek 'n plek van vrede het wat my beskut teen alle orkane en storms.

4. Loof God in alle omstandighede. Ons moet onthou dat die hele werêldgeskiedenis met sy verskrikking en onsekerhede ééndag by Sy troon moet eindig. Selfs al sou die ergste ellende van oorloë en verdrukking oor ons kom, sal dit nie 'n streep trek deur God se planne met ons en die wêreld nie. Dit sal ons net nader aan God bring.

Wanneer die angs vir die nabye toekoms, vir honger en koue, oorlog en dood te groot word, moet jy God loof te midde van alles, soos die dissipels in die gevangenis gedoen het. Want om God te loof beteken om die wêreld vanuit sy einde, vanuit die groot oorwinning van Jesus Christus, te sien. En hierdie lofprysing aan God sal jou uit die wêreldse verwarring neem sodat jy alles weer in die regte perspektief sal sien.

Miskien is dít die grootste genade, dat ons as Christene, wéét van die oorwinning van ons Here Jesus Christus, en dat ons God nou al mag loof, en nie eers aan die einde van alles nie. En omdat ons iets van die einde af weet, word al ons sorge oorheers deur die seëvierende en stralende uitroep: “Nader, my God, by U!

Wie dit weet, dat die vrede van God oor die einde geskryf staan, hy mag nie alleen uit die diepte na God roep nie, hy mag ook uit die diepte God loof. Wie God loof, vrees nie.

Uit: Helmut Thielicke - Das Leben kann noch einmal beginnen (verkort)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css