Die Weg

 

Om die angs te oorwin (2)

(Lees saam met die vorige)

“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;.......... Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel [moenie sorge hê] oor jul lewe - wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam - wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? ..... Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.” - Matteus 6:19-34.

Daarom wil ons graag weet wat hier in die bergrede met die woord “kwel“ (dit is, om sorge te hê) bedoel word. Wat bedoel Jesus met sorge (kwellings) en kan 'n mens voorsorg vir iets tref? Daar is tog ook so iets soos die sorgsame liefde van moeders. En wie sou die lyne wat deur besorgdheid en voorsorg op die gesig van 'n ou moeder gekerf is, nie met eerbied betrag nie? En is “sorge” nie ook deel van enige werk nie? Ek moet tog daaroor nadink, miskien kwelgedagtes daaroor koester, of ek opgewasse is vir 'n taak en watter hindernisse op my pad lê. En moet iemand wat 'n toring wil bou nie ook volgens Jesus se eie verklaring beplan, en dus ”sorge maak”, of hy die middele het om dit uit te voer nie”? (Luk 14:28).

Maar nou moet ons lig loop. Want alhoewel hierdie besorgdheid (voorsorg) dalk geregverdig is, kan dit juis veroorsaak dat ons ontrou word aan God. Ons ontvang immers al ons gawes en ons werk uit die hand van God. Maar wanneer ons hierdie dinge hoër ag, dit vir ons belangriker word as die Gewer self, trap ons in die slaggat. Dit beteken in die taal van die heilige Skrif niks anders nie as om afgodery te bedrywe.

Verder kan ons ons kwel (sorge hê) oor ons lewensbehoeftes soos voedsel en kleding. Ons weet dat ons, as God se geliefde kinders, dit uit sy hand sal ontvang! Dit is tog Hy wat alle lewe en dus ook alle lewensmiddele aan ons skenk. Maar hoe dikwels kyk ons eerder na die geskenk as na die skenkende hand! Dit is mos maar hoe ons is: ons is nie daaroor besorg of ons in die beskermende hand van God bly nie. Maar ons is wel besorg oor die manier, sowel as die middele, waarmee die hand van God ons moet help. Ek sê “moet”, want ons het dit vir onsself ingeprent dat dit al manier is waarop ons gehelp kan word. Ons skryf voor dat ons sóveel brood en klere, op dáárdie tyd, uit dié en dáárdie bron moet ontvang.

Dit is seker: ons weet duidelik dat dit God is wat ons daarmee moet help en dat dit sonder Hom nie gaan nie. Daarom bid ons tot Hom vir al die middele op die regte tye in die regte hoeveelhede. Ons wil hê dat God ons presies só moet help dat Hy dáárdie deur oopmaak waarna ons kyk, met dáárdie hulpprogram wat ons vir onsself uitgedink het. Om dit aan Hom oor te laat hoe Hy ons gaan help, Hy wat self die Weg is, dit lyk vir ons tog te waaghalsig. Dat God in sy hoëre gedagtes sou weet hoe Hy ons gaan help, en dat Hy sy hulp “onvoorsiens” sal laat opdaag, d.w.s. teen al ons beplanning in, lyk vir ons te veel gevra van ons vertroue. En tog is ons altyd weer verras en staan ons beskaamd wanneer Hy dit inderdaad so doen en wanneer Hy dít wat ons nodig het soms op die mees ongelooflike manier op die regte tyd laat opdaag.

(Lees volgende keer verder)

Uit: Helmut Thielicke - Das Leben kann noch einmal beginnen (verkort).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css