Die Weg

 

Om die angs te oorwin (1)

“Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;.......... Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel [moenie sorge hê] oor jul lewe - wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam - wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? ..... Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.” - Matteus 6:19-34.

Al die beelde hierbo van die onbesorgde voëls, die gelukkige lelies en die stralende heerlikheid van Salomo, klink vir ons idillies as Jesus die glans van die natuur oordra na die grouheid van ons alledaagse lewe. Nou kan 'n mens vra of so iets moontlik is. Kan 'n mens dit van toepassing maak op ons alledaagse bestaan wat gevul is met harde en realistiese sorge wat 'n mens nie net sommer kan wegtoor nie! Moeders het sorge oor die toekoms van hul kinders; jong mense oor wat die lewe hul gaan bied; beleggers oor die geldelike verliese wat hulle gaan ly as die ekonomie verswak; ou mense oor 'n pensioen wat ontoereikend kan wees..... Ons sit vasgevang in 'n bose kring van kwellings, 'n slang wat hom voortdurend aan sy eie stert byt.

Is hierdie woorde gegee sodat ons van al ons sorge kan vergeet, al is dit net vir 'n kort rukkie? Om op 'n romantiese manier na die natuur te kyk en ag te slaan op die voëls van die hemel wat in hul bestaan duidelik gelukkiger as ons is? Nee, beslis nie. Daarmee sou ons nie reg aan God se Woord laat geskied nie. Want hierdie Woord wil juis binnedring in ons sorge en ons angste. Dit wil ons troos en opbeur deur die tyding, dat Hy wat hierdie woorde oor die voëls en die lelies gespreek het, ook alle smarte en angste, alle folteringe en doodstryd aan sy eie lyf ervaar het.

En dit is wat die teks so moeilik maak. Want hoe moet die lewenstyl van 'n sorgelose voël na ons wêreld wat so vol sorge is, oorgeplaas word? Wat sal ons te midde van ons bestaansprobleme doen met die oproep “Kyk na die voëls; kyk na die lelies!”? Is dit 'n ontvlugting van die werklikheid?

Maar ons moet tog goed luister as juis Hy, wie se weg deur die wêreld vol van alles behalwe leeurikke en lelies was, vir ons wys op die onbesorgdheid van voëls en lelies. Was Hy nie reeds hier, met sy bergrede, bewus van die kruis wat op Hom gewag het nie? Het Hy nie self vooruit gesien hoe sy eie “dag van môre” met 'n donker wolk oorskadu is nie? Sou Hy dan geen vermoede gehad het van die verskriklikheid van die dag wat op Hom gewag het nie? Geen vermoede dat daar baie gou 'n “dag van môre” sou kom waarop Hy sy Vader moes bid dat hierdie beker aan Hom mag verbygaan?

Wie het hierdie woorde gesê oor die voëls en die lelies? Dit is Jesus Christus wat aan die woord is. Hy wat self van angs bloed sou sweet in Getsémané! Uit sy mond moet 'n preek oor die voëls en die lelies dus 'n baie dieper betekenis hê.

(Lees volgende keer verder)

Uit: Helmut Thielicke - Das Leben kann noch einmal beginnen (verkort).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css